Siektes in Bokke

© Marinda Louw
Goeie voeding en voorkomende gesondheidsorg soos inentings en parasietbeheer vorm die grondslag van gesonde bokke. Ten spyte daarvan is daar wel altyd die gevaar van siektes, parasiete, metaboliese toestande en toksienes. Tog het boere sekere opsies om siektes in hul bokkuddes te voorkom of te verminder.
Wanneer vrektes wel voorkom, is dit belangrik dat ‘n veearts ‘n nadoodse ondersoek uitvoer sodat die oorsaak van die dood vasgestel kan word. Dit kan verhoed dat siektes versprei en ook bydra tot verbeterde gesondheidsorgbestuur op die plaas.

Voeding om Bokgesondheid te Verseker

©Marinda Louw
Goeie voeding is belangrik om sterk immuunsisteme by bokke te bou. Soms is ekstra voeding nodig wanneer veldtoestande swak is, of as daar nie genoeg weiding is nie. Dit kan ‘n groot positiewe impak hê op die kondisie van jou bokke, veral wanneer die weiding swak is.
Kritieke periodes vir ekstra voeding is:
Opvoer: 2 weke voor paring en die eerste 3 weke gedurende die lamseisoen. Tweetandooie (12 – 18 maande) behoort voorkeur te geniet. In gevalle waar voer duur is, voer liewer goed vir ‘n korter tydperk; moenie minder goed voer vir ‘n langer tydperk nie.
Dragtigheid: Gee ekstra voer vanaf dag 90 van dragtigheid. Dit is belangrik - selfs onder redelik goeie weiveldtoestande. Hierdie ooie het twee tot driekeer meer energie nodig (om die groeiende fetus te voed) as ‘droë’ ooie.
Laktasie: Ekstra voer is nodig in die eerste ses weke van laktasie.
Gespeende lammers: Maak kruipvoer beskikbaar voordat lammers gespeen word sodat hulle gewoond is aan voer. Speenstres het ‘n groot impak op die groeitempo van lammers.
Die gee van aanvullende, voedsame voer vir ooie en lammers tydens hierdie belangrike fases verlaag die risiko van aborsie, doodgebore of swak lammers. Die lampersentasie (aantal lammers gebore per ooi per jaar), gesondheid, groeitempo sowel as sybokhaarproduksie by Angorabokke, kan ge-optimaliseer word deur ekstra voer.
Omdat bokke in die veld wei, en veldplante gewoonlik hoër mineraalkonsentrasies het as aangeplante weiding, is bokke minder geneig tot mineraaltekorte as skape, maar vitamines en minerale moet 4 tot 6 weke voor lamtyd en ook tydens droogtes beskikbaar wees.

Parasietbeheer in Bokboerdery

©Marinda Louw
Draadwurm en bruin maagwurm (beide tipes rondewurms) is die grootste siektebedreigings vir bokke. Koksidiose is nog ‘n algemene inwendige parasiet wat dikwels lammers tussen 4 weke en 5 maande affekteer. Hulle ontwikkel as die ‘eiers’ van die koksidiaparasiet die spysverteringstelsel binnedring. Dit word aangetref op weidingsgewasse, en dikwels op die spene van die sogende ooie. Simptome sluit in diarree, bloederige urine en swakheid.
Stres, (soos spening of verskuiwing) maak die lammers meer vatbaar vir koksidiose en rondwewurm besmetting. Die hoeveelheid wurms in ‘n bok is verwant aan die digtheid van larwes op die weiding en die swakheid van ‘n bok se immuunsisteem. ‘n Groot uitdaging vir bokboere is om ‘n veilige omgewing vir hul bokke te verseker en terselfdertyd parasietweerstand teen medisyne te minimaliseer. Dit word gedoen deur slegs die bokke wat dit nodig het, te doseer. Dit word genoem ‘geteikende selektiewe behandeling’ en word gedoen om ‘refugia’ te verseker. Refugia is die instandhouding van ‘n middel-sensitiewe wurmpopulasie en is ‘n belangrike bestuursbeginsel.
‘n Wye verskeidenheid bosluise word aangetref in areas waar bokke aangehou word. Bosluise is bloedsuiers maar dra terselfdertyd ook siektes oor soos hartwater, veroorsaak infeksies (absesse), bosluisbytwonde, velskade en toksikose soos bosluisverlamming.
Rooi en blou luise is ander belangrike parasiete wat beheer moet word. Hierdie luise veroorsaak erge irritasie en sal veroorsaak dat die bok homself krap, skuur teen voorwerpe, en liggaamskondisie verloor. In Angorabokke lei dit tot verswakking, en koek en verkleur van die hare.

Inentings in Boerbokboerdery

As bokke op die veld grootgemaak word, word inentings teen bloednier (Clostridium perfringens D) en Pasteurella (veroorsaak deur Pasteurella haemolytica en Manhaemia haemolytica) aanbeveel. Onder meer intensiewe toestande waar bokke op aangeplante weiding gehou of gevoer word, word multiklostridiale vaksines, gekombineer met Pasteurella aanbeveel. Vra jou veearts.
As bokke vir die eerste keer ingeënt word, moet dit opgevolg word met ‘n tweede inenting soos voorgeskryf. Lees die medisyne instruksies sorgvuldig. Die tweede inenting word gewoonlik 4 weke na die eerste gedoen. Versuim om die tweede inenting te doen, kan lei tot onvoldoende immuniteit of veroorsaak dat die eerste inenting asook daaropvolgende inentings oneffektief is.

Asidose/Suurvergiftiging in Bokke

Metaboliese siektes is minder algemeen onder bokke as skape, maar asidose kom wel voor. Asidose word veroorsaak deur oorvoeding met koolhidrate in verhouding tot goeie gehalte ruvesel. Dit mag voorkom in tye van droogte, op voer, dragtigheid en laktasie. ‘n Verlaagde inname van ruvesel en tydperke van verhongering kan ook lei tot sub-optimale ph-toestande in die bok se rumen.

Vergiftiging in Bokke

©Dr Mackie Hobson
Die meerderheid van kardiale glikoside (‘n giftige samestelling wat dikwels in plante voorkom) vergiftigings kan toegeskryf word aan ’krimpsiekte’. Angorabokke is meer vatbaar hiervoor as boerbokke. ‘Krimpsiekte’ word veroorsaak deur die Cotyledon vetplante, algemeen genoem “plakkies” of “nenta” Vergiftiging van kleinvee kom dikwels voor in dele van die klein Karoo en die suidelike dele van die groot Karoo. Simptome is meestal gesetel in die senustelsel, maar diere mag ook akute abdominale pyn verduur.

Translated by Elna Van Rhyn