Ruby Cabernet

Beskrywing

Ruby Cabernet is ‘n rooiwyn variëteit wat in 1936 ontwikkel is deur Dr Harold Olmo van die Universiteit van Kalifornië, deur die kruising van Carignan en Cabernet Sauvignon.

Herkoms

Dr Olmo het Ruby Cabernet ontwikkel om aan die Kaliforniese wynbedryf ‘n variëteit te verskaf wat kon floreer in die warm klimaatstoestande waarin Cabernet Sauvignon gesukkel het.

Dus is Ruby Cabernet ontwikkel om die kwaliteit van Cabernet Sauvignon met die gehardheid van Carignan te lewer. Die variëteit is kommersieel vrygestel in 1948 en het was uiters gewild in die 1960’s. Hoewel die variëteit goed vaar onder warm klimaatstoestande, word beter kwaliteit enkelvariëteit wyne assosieer met druiwe wat in koeler streke geproduseer word.

Ander Name

Geen

Verbouing in Suid-Afrika

Die variëteit is in 1982 die eerste keer in Suid-Afrika geplant en die area onder produksie het sedertdien gegroei tot 2 000ha.

Produksiestreke

Die variëteit word in al die wyndruifproduserende streke van Suid-Afrika geplant, met Robertson en die Breedekloof wat die grootste areas onder produksie het.

Groei

Dis ‘n lewenskragtige groeier en is in staat om tot vier keer meer per hektaar te lewer as Cabernet Sauvignon. Produksiegemiddeldes wissel tussen 20t/ha tot 30t/ha. Dis baie geskik vir meganiese oesmetodes, veral waar dit oor ‘n groot area geplant is.

Rypwording

Korrels word in die laat midseisoen ryp, van die tweede helfte van Maart af.

Korrels

Die variëteit produseer klein ovaalvormige korrels wat donkerblou word as hulle heeltemal ryp is. Die doppe is dik, terwyl die binnekant waterig met effense grasgeure is.

Blare

Blare is groot, donkergroen, blink en drie- tot vyflobbig.

Peste en Plae

‘n Effense geneigdheid tot donsskimmel en botritis.

Gebruike

‘n Paar goeie kwaliteit enkelvariëteite word gemaak, maar die meeste van die druiwe word gebruik in versnitte wat in massas of as “boks”wyne verkoop word. Dit verouder vinniger as Cabernet Sauvignon en is bedoel om as jongwyne geniet te word.

Smaak

Klone het karakteristieke bessie of gras-eienskappe.Translated by Elna Van Rhyn