Roussanne

© Glenneis Kriel

Naam

Roussanne

Beskrywing

Rousanne is ’n witwyn variëteit wat oorspronklik van die Rynvallei in Frankryk kom. Die naam is moontlik van die Franse woord ‘roux’ afgelei wat rooi beteken en na die rooi kleur van die korrels verwys as dit ryp is. Indien hierdie druif saam met ander variëteite soos Marsanne versny word voeg dit ’n hoër suurvlak, parfuum en rykheid by wyne.

Oorsprong

Frankryk

Ander Name

Roussanne het 26 sinonieme soos Barbin, Bergeron, Fromental en Rebellot. In Kalifornië is dit verwar met Viognier, maar hierdie twee variëteite is nie verwant nie. Die pienk-dop Roussanne du Var en Roussette druiwe klink dieselfde, maar is ook nie verwant aan Roussanne nie. In Suid Afrika is die kultivar geregistreer as Roussanne.

Produksie in Suid Afrika

Klone is in 2000 deur Simon Barlow van Rustenberg in Stellenbosch ingevoer en hy het ook die eerste enkel variëteitswyn gemaak. Omtrent 75 hektaar Roussanne word in Suid Afrika se wynstreke gekry, maar nie in die Noord-Kaap, Robertson en Worcester nie. Die grootste wingerde is in die Paarl (27ha), Malmesbury (16ha) en Stellenbosch (11ha).

Groei

Roussanne het ’n droë, sonnige klimaat nodig om heeltemal ryp te word en het ’n baie lae opbrengs van 6 – 8 ton per hektaar al is die groeitoestande perfek. Dit is ’n arbeidsintensiewe kultivar. In Kalifornië is dit gevind dat die druiwe baie sensitief is vir sonlig en dat uitdunning van die blare nodig is om rypwording te bevorder. Die Roussanne korrels word nie gelyktydig ryp nie en daarom moet dit verskeie kere met die hand geoes word. Hierdie variëteit word by ’n hoër alkoholvlak ryp en dit is dus nodig om die alkoholinhoud in die wyn te beheer.

Oestyd

Roussanne word vroeg in die seisoen ryp, net na Sauvignon Blanc.

Druiwekorrels

Die korrels is klein en rond en ’n amber kleur as dit ryp is.

Blare

Roussanne blare is mediumgroot en vyflobbig met breë, ronde getande rande.

Siektes en Plae

Roussanne is baie vatbaar vir oïdium (witroes) en geneig tot windskade wat die opbrengs kan verminder.

Gebruik

In Suid Afrika is Roussanne beskikbaar as ’n baie duur enkel variëteitswyn. Dit word saam met Marsanne en Viognier versny om ’n wit versnitwyn met ’n spesery en parfuum, maar vrugtige karakter te kry. Roussanne se rykheid, hoë suurvlak en minerale maak dit ’n goeie wyn vir veroudering, tot oor die 10 jaar. Hierdie wyn baat ook by houtbehandeling, dit kan hout-gegis of eikevat-verouderd word.

Smaak

Wyne wat van Roussanne gemaak word, het kenmerkende aromas. As dit vroeg by ’n lae suikervlak geoes word, het dit steeds ’n volronde wyn tot gevolg en as dit gelos word om ryper te word behou dit ’n goeie suurvlak. Roussanne is nie ’n baie vrugtige variëteit nie. Dit word meer waardeer vir die olierigheid en tekstuur en ’n peperagtige karakter word dikwels opgemerk. Die reuk kan soms tropies wees met pynappel en ’n effense lelie of veldblom reuk.Translated by Ananda Schoeman