Robbeneiland Tronk Toer

Tronk Gidse

©Tracey Derrick
Na die bustoer word besoekers by die ingang van die maksimum-sekuriteit gevangenis vir die emosionele en nogal ontstellende tronk toer afgelaai. Hierdie deel van jou besoek word deur ’n eks-politieke gevangene gelei en hulle persoonlike uitkyk maak die toer deur die tronk ekstra insiggewend. Die gidse het nie uitgebreide opleiding nie en word ook nie ’n spesifieke voorskrif gegee om te volg nie. Desondanks word ek meegedeel dat die meeste gevangenes ’n gemeenskaplike ondervinding gedeel het en hulle interpretasies van die lewe in die tronk is geneig om eenders en ewe kragtig te wees. Ek het my gids, Derrick Basson, gevra hoe dit was om terug te keer na die tronk toe as ’n gids en sy antwoord was nogal reguit.

Derrick het ook gesê dat hy en die meeste van die ander eks-gevangenes wat na die eiland teruggekeer het, dit gedoen het omdat hulle werkloos was. Derrick het my daaraan herinner dat die meeste gevangenes vrygelaat is sonder enige vorm van berading of werk vooruitsigte en dit moes ’n bitter pil gewees het om te sluk.

Die gidse werk hard. Daar is tans ongeveer 15 voormalige politieke gevangenes wat op die eiland werk en in die piek seisoen kan hulle tot ses toere per dag doen. Dit moet uitputtend en eentonig wees, soortgelyk aan kantoorwerk. Derrick verseker my dat hy in elke toer wat hy doen iets lonend vind (en hy bedoel nie die fooitjies nie). Dit is aanvaarbaar om enige van die gidse ’n fooitjie te gee en baie besoekers gee hulle gasheer ’n goue handdruk as hulle die tronk verlaat.

Die Kramat op die Eiland

©David Fleminger
Van buite af is die maksimum-sekuriteit gevangenis ’n lae, bedreigende gebou van donker klip. Op elke hoek van die kompleks is ’n wagtoring. ’n Stowwerige sportveld, omring deur ’n dubbele doringdraadheining, is aan die een kant van die tronk geleë en dit is hier waar die gevangenes hulle wedstryde gespeel het. Die sport komitees van Robbeneiland was baie goed georganiseer, het gedetailleerde notules van hulle vergaderings opgestel en sertifikate van deelname aan al die spelers uitgereik.

Langs die gevangenis is die klein kramat (heiligdom) van Sayed Adurohman Moturu, die Sjeik van Madura. Hy was ’n Indonesiese prins wat na Robbeneiland verban is omdat hy ’n politieke weerstand teen die Verenigde Oos Indiese Kompanjie gelei het. Hy het in 1754 op die eiland gesterf. Sy liggaam is in Jakarta begrawe, maar die Kaapse Moslems lê al die afgelope 250 jaar ’n pelgrimstog na sy heiligdom toe af, selfs toe die eiland ’n apartheids-gevangenis was. Die huidige struktuur op die terrein is in 1969 gebou en elke jaar word daar ’n fees, genoem die khalifa, gehou.

Gemeenskaplike Tronkselle

©Tracey Derrick
Soos jy tussen die geroeste draadheinings van die gevangenis loop voel dit asof daar ’n somberheid vanuit die grond opkom. Dan is jy skielik binne-in die tronk. Jou eerste stop sal waarskynlik die gemeenskaplike tronkselle van Blok A wees. Hier sal al die besoekers op banke langs die mure van die sel sit terwyl die gids jou van die lewensomstandighede in die tronk en die verskillende dissiplinêre optredes vertel.

Vandag is die selle leeg en net so koud soos die beton, maar ’n mens kan jouself die oorbevolking en geraas wat eens hierdie gedeelte gekenmerk het voorstel. Die helder maar naïewe muurskilderye helder alles ’n bietjie op, maar dit is eers na 1991 geskilder toe al die politieke gevangenes die tronk verlaat het. Vanaf die gemeenskaplike tronkselle word jy oor ’n windverwaaide binnehof, verby verskeie administrasiekantore na die hoofgebou geneem. Dit is waar die hospitaal, tugmeester se kantoor en aparte selle vir die politieke leiers geleë was.

Die Bekende Binnehof

©Tracey Derrick
Nadat jy deur ’n gang loop, word jy by ’n deur uitgelei tot in ’n beton-binnehof omring deur ’n hoë muur. Dit is die bekende plek waar Mandela en die ander “gevaarlike” gevangenes ’n paar kosbare ure in die son spandeer het voordat hulle weer na hulle skoenboks grootte selle moes terugkeer. Orals in die binnehof is nou groot foto’s van die bekende persoonlikhede wat eens hier opgesluit was, maar dit bly ’n morbiede plek. Dit is geen wonder dat Mandela en van die ander gevangenes ’n klein tuintjie aan die een kant van die jaart gemaak het om dinge op te vrolik nie.

Na ’n kort verduideliking van die gids wat beskryf hoe die geïsoleerde leiers met ’n komplekse smokkelnetwerk met die ander gevangenes en die buitewêreld gekommunikeer het, loop die gretige skare na Blok B. Dit bevat die ry eensame selle wat in pare in ’n smal gang geleë is en deur gonsende neonligte verlig word. Nou is dit tyd vir die hoof aantrekkingskrag: Blok B, Sel 5. Dit is die klein kamertjie wat een van die grootste figure van die twintigste eeu, Nelson Mandela, gehuisves het.

Translated by Ananda Schoeman