Die Richtersveld se Basters

Eksotiese Mense

©Shem Compion
Na van der Stel se eerste ekspedisie na die Koperberge is die roete na die verre noorde uitgelê. Dit was glad nie ’n besige pad nie, maar oor die volgende 200 jaar sou baie mense in en rondom Namakwaland beweeg. Dit sluit jagters, ontdekkingsreisigers, plantkundiges, Europese boere, ontsnapte slawe en ’n aantal Basters (mense met gemengde bloed) in. Met al hierdie nuwe aankomelinge wat om grond en hulpbronne meeding het die konflik in die streek gestyg - veral tydens droogtetye.
Laat ons eerstens oor hierdie sogenaamde Basters praat. Hierdie “gemengde bloed” mense is verskeie name genoem. Die koloniale magte het hulle Basters, afstammelinge van Europeërs en nie-blankes, of Baster-Hottentotte, afstammelinge van slawe en Khoikhoi, genoem. As gevolg van hulle twyfelagtige afstamming het die meeste van hierdie mense, hoewel tegnies vry, nie in aanmerking gekom vir burgerskap binne die kolonie nie. As sodanig het hulle noord beweeg op soek na hulle eie stukkie grond.

Adam Kok

Hier het hulle met die inheemse Nama-groepe saamgesmelt. Die Namas het dikwels die naturelle oorheers op grond van hulle vuurwapens, opvoeding of relatiewe materiële rykdom. Hulle het ook ’n mate van politieke invloed as gevolg van hulle Christenskap gehad. Party het selfs plase besit of weiregte gehad en uiteindelik baie welaf geword.
Die bekende Adam Kok, vader van die Griekwanasie, was een so individu. Kok het in 1751 vanaf die Kaap na Piketberg verhuis en op die plaas Stinkfontein gaan woon. Later het hy en sy gesin noordwaarts na die Kamiesberg getrek waar sy mense as middelgangers tussen die Europeërs, die Namakwa en die suidelike Tswana-stam opgetree het. Rondom 1780 het sommige familielede weer op soek na ’n eie stukkie grond na die Oranjerivier getrek en hulle in die Kimberley-omgewing gevestig. Hierdie gereelde migrasies was waarskynlik die gevolg van Trekboere wat die land binnegekom het.

Die Bosluis Basters

Die Bosluis Basters kry hulle naam van hulle oorspronklike tuiste, die plaas Bo-Sluis (bokant die sluis) en nie van die Afrikaanse woord “bosluis” nie. Dit is ook noembaar dat die term “Baster” afgelei is van die vorige term naamlik “Bastaard”. Dit word vandag nog met ’n mate van trots deur verskeie groepe, insluitende die Rehoboth-basters in Namibië, gedra. Verskeie kenners beweer dat die rede hiervoor uit die 1800’s dateer toe hulle status as “baster” hulle onderskei het as effens beter af as die minderwaardige Hottentotte en ander inboorlinge.
In elk geval was die aankoms van die Bosluis Basters ’n bietjie ontstellend vir die plaaslike Khoikhoi. Ek is meegedeel dat die twee groepe aanvanklik versigtig vir mekaar was. So onlangs as die 1980’s sou ’n huwelik tussen ’n Nama en ’n Baster die wenkbroue in Eksteenfontein laat lig. Vandag is die verskillende groepe in die Richtersveld egter verenig as ’n gemeenskap en werk hulle vir almal se welstand saam.

Translated by Ananda Schoeman