Die Richtersveld se Khoikhoi

‘n Nuwe Groep Mense

©Shem Compion
Omtrent 2000 jaar gelede het ’n nuwe groep mense in die prentjie gekom. Hulle was naby verwant aan die Boesmans, maar het een groot verskil gehad. Hulle was nomadiese boere wat deur die land met hulle kuddes vetstertskape getrek het.
Later van tyd sou hulle ook gewasse verbou, met beeste boer en in die koloniale tye met bokke begin boer. Hulle het steeds wild gejag en verkies om hulle vee vir seremoniële doeleindes te hou, maar die Khoikhoi se koms het die begin van ’n nuwe era ontketen.
Die oorsprong van die Khoikhoi is effe onbekend. Vroeë koloniale skrywers het beweer dat hulle van Asië afkomstig was en rondom die tyd van die groot vloed suid beweeg het. Sommige het selfs beweer dat hulle ’n Hamitiese of Joodse oorsprong gehad het.
Met die draai van die eeu het die geskiedkundiges, Stow en Cooke, beweer dat hulle van die groot mere in Sentraal-Afrika af gekom het voordat hulle langs die weskus van die subkontinent afwaarts beweeg het.
Moderne historici, soos Richard Elphick, het meer betroubare taalstudies van die Khoikhoi gemaak en dit word nou algemeen aanvaar dat hulle in die Zambezi-vallei van Noord-Botswana ontstaan het.

Die Oorgang

©Shem Compion
Hier het die nomadiese jagter-versamelaar-samelewing verander na ’n kultuur van veeboere. Hierdie soort boerdery-tegnologie het sy oorsprong ongeveer 10 000 jaar gelede in die Midde-Ooste. Dit het die noordelike Sahara ongeveer 7000 jaar gelede bereik en het na die Afrika-vasteland versprei waar dit deur die Swart stamme van Wes-Afrika aangeneem is.
Hierdie mense het op hulle beurt die herders-tradisie saam met hulle geneem toe hulle suid begin migreer het. In Oos-Afrika was dit ongeveer 4000 jaar gelede en suidelike Afrika effens later. Daar word geglo dat die Khoikhoi hierdie tradisie aangeneem het. Sommige teoretici beweer dat die Khoikhoi ’n herder-tradisie op hulle eie ontwikkel het, maar dit word nog deur vurige akademici bespreek.
Hoe dit ook al sy, die Khoikhoi het hierdie nuwe boerdery tradisie aangeneem en met hulle skape na die suide getrek. Tussen 2000 en 1600 jaar gelede het hulle die Oranjerivier naby die samevloei van die Vaalrivier oorgesteek. Van hier het hulle na die Oos, Suid en Wes-Kaap versprei. Die Swart stamme het ’n rukkie later in Suider-Afrika aangekom en hulleself langs die oostelike kus en in die binneland gevestig.

Onderskeie Stamme

Mettertyd sou die Khoikhoi hulleself as ’n aantal afsonderlike stamme, elk met hulle eie gebiede en dialekte, vestig. Hierdie politieke eenhede is rondom ’n hiërargiese stelsel, gebaseer op hoofde, hoofmanne en familiegroepe georganiseer. Jy het byvoorbeeld die Cochoqua en Gurikwa in die suidweste gehad, Chainokwa, Hessekwa, Gourkwa, Attakwa en Outenikwa in the ooste en die Goringhaikwa, Gorachoukwa en Goringhaikona rondom die Kaapse Skiereiland.
By die mond van die Oranjerivier het die Khoikhoi in twee groepe verdeel. Die Groot Namakwa het hulle noord van die rivier gevestig in wat vandag Namibië is. Die Klein Namakwa het die gebied in die suide bevolk en vyf stamme tussen die Oranjerivier en die huidige Vanrhynsdorp gevestig. Hierdie mense het die streek sy moderne naam gegee en is die voorgeslagte van die hedendaagse Nama-mense wat nog in die Richtersveld woonagtig is.

Translated by Ananda Schoeman