Pluimvee Vervoer

© Andile Bahla

Om beserings en sterftes te vermy, moet die hoender so gemaklik en stresvry as moontlik gehou word tydens vervoer. Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging het die volgende wenke vir 'n goeie reis:

Bestuurders

Die bestuurder moet nie net van diere hou nie, maar ook bekend wees en weet hoe om dierewelsynskwessies wat tydens die vervoer mag voorkom, aan te spreek. Die veiligheid en welsyn van die voëls moet oor die hele reis oorweeg word en die voertuig moet hanteer word om te verhoed dat die houers gly of val.

Reislengte en Stop-periodes

Alle papierwerk moet voltooi word voordat die hoenders gevang en gelaai word, sodat die voertuig die perseel onmiddellik na die laai kan verlaat. Die reis moet nie vier-en-twintig uur oorskry nie en stop net wanneer dit absoluut noodsaaklik is. Wanneer dit in warm weer stop, moet die voertuig in staat wees om ventilasie en temperature in die laaiplek te behou.

Vas

Voëls moet nie van voer of water ontneem word voor vervoer nie en mag gedurende die vervoerfase nie meer as vier-en-twintig uur sonder kos of water wees nie, gemeet vanaf die tyd van die laaste voer.

Klimaatstoestande

Stappe moet geneem word om voëls te beskerm teen ongunstige weersomstandighede, veral oor lang afstande. Tydens warm weer moet voëls gedurende die kouer dele van die dag gelaai of vervoer word - vroegoggend, laatmiddag of snags.

Hantering van die Hoenders

Volwasse hoenders moet individueel gevang word, met albei bene vasgehou word en die liggaam moet ten volle geondersteun word. Een persoon mag nie in een hand meer as drie lêhenne of telers en nie meer as vier braaikuikens op een slag dra nie.

Houers moet geleidelik verplaas word en mag nie meer as 20 grade gekantel word tydens enige stadium van die laai- of aflaaiproses nie. Dit mag nooit gegooi of laat val word nie. Vasmaak toestelle moet gebruik word om te verhoed dat houers sal omkeer.

Die houers, kratte, mandjies of doelgemaakte gaashokke in trollies wat tydens vervoer gebruik word, moet skoon en ontwerp wees vir die hantering en vervoer van die hoenders. Die manier waarop hierdie houers gestapel word, moet nie die lugbeweging in en uit die houers belemmer nie. Voëls moet nie hul koppe, vlerke of bene uit die houers kan steek nie.

Voëls

Slegs gesonde en kragtige kuikens moet vervoer word. Klimaatstoestande, die duur van die reis en die ontwerp van 'n houer moet oorweeg word wanneer die veedigtigheid van hoenders bepaal word. In die algemeen moet elke lewende kuiken toegang hê tot minstens 20cm². Vir lêhenne moet die digtheid minder as 55kg liggaamsmassa per vierkante meter wees, terwyl dit minder as 70kg per vierkante meter moet wees wanneer braaikuikens vervoer word.

Lewende Voëls

Rekord moet gehou word van verkope, wat die kontakbesonderhede van kopers insluit, asook die aantal voëls en hul gesondheidstatus. Om bio-sekuriteitsredes moet kopers nie in die produksiefasiliteite toegelaat word nie, en lewende voëlverkope moet plaasvind vanaf 'n toegewyde verkooppunt buite die bio-veilige sone.

Verklaring

Verklaring Bevestiging volgens die sertifisering in die Praktykskode moet gegee word aan:
  • Of die voëls vry van sigbare tekens van siektes was en dat daar geen abnormale sterftes onder die hoenders was in die voorafgaande dertig dae nie.
  • Dat die voëls getoets word vir aanmeldbare Salmonellae en voldoen aan die vereistes van die Salmonellae Bewegingsprotokolle.
  • Die voëls is getoets vir aanmeldbare voëlgriep volgens die HPNAI Gebeurlikheidsplan en voldoen aan die vereistes in die dokument.
  • Die voëls is getoets vir Newcastle-siekte volgens die "Bewegingsbeheerprotokol in geval van Newcastle-siekte" en voldoen aan die vereistes in die protokol.
  • Die voëls is hanteer in ooreenstemming met die huidige SAPA-praktykkode vir lewendige voëlverkope.

Translated by Nina Joubert