Plaas Rekordhouding

© Chris Daly

Baie boere vermy die taak van rekordhouding omdat dit tydrowend kan wees. Dis egter ‘n noodsaaklike taak as jy ‘n beter boer wil word.
Banke, regeringsagentskappe en ander befondsers vereis goeie boerdery rekordhouding voordat geld of lenings beskikbaar gemaak sal word. In elk geval help goeie rekordhouding die boer om beter te beplan en meer akkurate voorspellings te maak.
Rekordhouding van reënval en weerpatrone kan boere selfs help om die weer vir die volgende plantseisoen te voorspel. Rekordhouding van inkomstes en uitgawes kan help met finansiële beplanning.
Om rekord te hou van ontkiemingstempo’s van saad wat hierdie seisoen gekoop is kan die boer help om beter saad te kies vir die volgende seisoen. In die geval van lewendehawe behoort daar rekords te wees van bloedlyne, peste en siektes, voersoorte en verbruik. Dit mag help om inteling te voorkom, peste en plae beter te beheer en die beste voer vir verbeterde groei te verseker.

Wat is Boerderyrekords?

Boerderyrekords bestaan gewoonlik uit dokumente soos fisiese inventarisse, waardevermindering, kwitansies en rekeninge, arbeidsrekords, details van masjinerie, fisiese produksie ensovoorts.

Hoe om Rekordhouding te Begin

Rekordhouding op ‘n plaas behoort in te sluit ‘n inventaris, waardasie van bates (asook waardevermindering). ‘n Bate is enigiets van waarde wat omgesit kan word in kontant.
Inventaris
Maak ‘n lys van al die fisiese bates op die plaas, asook hul waardes in Rand. Voorbeelde van bates is grond, geboue, masjinerie op die plaas, oeste, oeste op die land en vee.
Batewaardasie
Die tweede stap in rekordhouding is batewaardasie – uitgedruk in Rand. Die metode wat gebruik word vir batewaardasiehang af van die aard van die bate en die doel daarvan, maar maak seker dat dieselfde waardasiemetode elke jaar gebruik word.
Rekord van Rekeninge
Al die inkomstes en uitgawes van die plaas behoort aangeteken te word.

Bate Waardasiemetodes

Bate waardasiemetodes wat oor die algemeen gebruik word is:
Markwaarde
Die bate word gewaardeer teen die huidige markprys. Gebruik om voorraad en gesaaides te waardeer.
Koste
Hierdie metode gebruik die bate se oorspronklike aankoopkoste en werk die beste vir voorrade soos brandstof en voer wat onlangs aangekoop is en waarvan die aankooppryse nog beskikbaar is. Bates wat waarde verloor oor tyd, soos plaasimplemente, word anders gewaardeer.
Laer Koste of Markprys
Hierdie metode waardeer ‘n item teen beide sy oorspronklike prys en markwaarde. Die laagste waarde word gekies.
Plaasproduksiekoste
Hierdie metode word gebruik vir items wat in die produksieproses gebruik word, maar hul waarde mettertyd verloor, soos masjinerie. Die waarde word verlaag met die depresiasiebedrag van daardie jaar.
Koste minus Waardevermindering
Hierdie metode word gebruik vir items wat gebruik word in die produksie proses, maar waarde verloor oor die loop van tyd, bv. masjinerie. Die waarde daal met die aantal waardevermindering vir daardie jaar.

Wat is Depresiasie?

Rekordhouding in boerdery moet tred hou met die depresiasie van bates. Depresiasie verwys na die vermindering in die waarde van bates soos voertuie, masjinerie, implemente, toerusting en gereedskap.
Hierdie waardevermindering is te wyte aan ouderdom, gereelde gebruik en bates wat in onbruik verval. Depresiasie is nie ‘n fisiese kontantuitgawe nie, maar eerder die vermindering in waarde van ‘n bate wat afgeskryf word oor sy verwagte leeftyd.

Rekord van Rekeninge

Vir deeglike finansiële rekordhouding op ‘n plaas is dit noodsaaklik dat daar rekord gehou word van alle inkomstes en uitgawes op die plaas. Hou aparte rekords van die inkomste en uitgawe van elke individuele onderneming op die plaas. Byvoorbeeld, hou aparte rekords vir mielies en aartappels.
‘n Rekordhoudingsisteem is nodig om die netto plaasinkomste en belasbare inkomste vir ‘n finansiële jaar te bereken, om die kontantvloei te analiseer, om begrotings op te stel vir die toekoms en om op hoogte te bly van elke produk om seker te maak dit word koste-effektief geproduseer.
Die bronne waaruit die rekords saamgestel kan word is die volgende:
Bankstate
Kontantanaliseboek – sluit hier kwitansies en betalings in.
Kleinkasboek – slegs kontanttransaksies word in hierdie boek aangeteken.
Loneboek – dui aan lone betaal, skuld en terugbetalings.
Betalingsbewyse, kredietbewyse en aankoopsbewyse, state, fakture en afleweringsnotas.

Finansiële State en Rekordhouding

Die plaasrekords word gebruik om finansiële state op te stel. Finansiële state sluit in die balansstaat, inkomstestaat en kontantvloeistaat.
Die balansstaat wys wat die plaas skuld en wat die plaas besit en gee ‘n oorsig oor die plaas se finansiële posisie op ‘n gegewe tyd.
Die inkomstestaat wys die uitgawes en inkomstes van een balansstaat na die volgende.
Die kontantvloeistaat wys die vloei van kontant in die plaas in en uit die plaas uit

Translated by Elna Van Rhyn