Pinot Gris and Pinot Blanc

Naam

Pinot Gris en Pinot Blanc

Beskrywing

Pinot Gris en Pinot Blanc is kleur mutasies wat ontwikkel is van Pinot Noir. Die hoof verskil tussen hierdie variëteite is die kleur van die korrels. Pinot Noir se korrels is swart, Pinot Blanc is wit en Pinot Gris is ’n grysblou of bruin-pienk kleur. Beide Pinot Blanc en Pinot Gris word gebruik om witwyn en vonkelwyn van te maak.

Oorsprong

Pinot Blanc en Pinot Gris kom van Boergondië in Frankryk waar dit al vir dekades lank produseer word.

Ander Name

Die bekendste sinonieme vir Pinot Gris is Pinot Grigio in Italië, Petit Gris in Frankryk, Szükerbarát in Hongarye (wat grys monnik beteken) en Grauburgunder of Rülander in Duitsland.

Pinot Grigio word gewoonlik gebruik om ’n ligte maklik drinkbare wyn te beskryf en Pinot Gris vir volronde wyne wat ’n beter veroudering potensiaal het. Pinot Blanc is ook bekend as Clevner of Klevner in Frankryk, Weisser Burgunder in Duitsland, Pinot Bianco in Italië en Beli Pinot in Slowenië.

Produksie in Suid Afrika

Suid Afrika se eerste Pinot Gris wingerdstokke is in 1963 vanaf Wes-Duitsland, waar dit sedert die 14de eeu al geproduseer word, ingevoer. Dit is in 1977 vir kommersiële gebruik vrygestel en grootliks gebruik as ’n versnitwyn of basis vir vonkelwyn. L.’Ormarins het in die 1980’s Suid Afrika se eerste Pinot Gris enkel variëteitswyn onder die Terra del Capo etiket as Pinot Grigio verkoop.

Rekords van Suid Afrika se eerste Pinot Blanc wyn is onbekend. Sommige kenners beweer dat dit in 1967 vanaf Kalifornië ingevoer is en na kwarantyn in 1971 vrygestel is. Ander beweer dat dit eers in die 1990’s vir kommersiële produksie gebruik is.

Produksie Streke

Beide variëteite floreer in koel klimaatstoestande. Pinot Gris produksie is nog relatief klein in Suid Afrika, met net oor die 350 hektaar wingerde. Dit word egter al meer gewild en was die tiende mees aangeplante variëteit in 2016.

Pinot Gris kom in al die wynstreke behalwe die Klein Karoo en Noord-Kaap voor. Worcester, die Breedekloof, Stellenbosch, Robertson en die Swartland is die streke met die grootste areas onder produksie.

Pinot Blanc produksie is nie baie gewild in Suid-Afrika nie, met minder as 10 hektaar van hierdie variëteit in 2016. Meer as die helfte van hierdie wingerde word in die Paarl omgewing gevind.

Groei

Beide Pinot Gris en Pinot Blanc het ’n gemiddelde groeikrag met ’n opbrengs potensiaal van 9 – 12 ton per hektaar.

Oestyd

Die druiwe word vroeg mid-seisoen ryp, Pinot Gris vanaf die eerste helfte van Februarie en Pinot Blanc vanaf die tweede helfte.

Blare

Pinot Noir, Pinot Gris en Pinot Blanc se blare is basies identies naamlik donkergroen, mediumgroot, rond en geheel of swak drielobbig.

Druiwekorrels

Pinot Noir, Pinot Gris en Pinot Blanc se korrels is amper identies in vorm en grootte naamlik klein en effens ovaal. Pinot Noir het ’n swart dop en Pinot Blanc is wit. Pinot Gris is eers ’n heldergroen wat later grysblou of bruin-pienk word en somtyds is daar verskillende kleure korrels in een tros. Die doppe van beide variëteite is dun en ferm en die vleis is soet, sag en sappig.

Siektes en Plae

Pinot Gris en Pinot Blanc is vatbaar vir botritis en donsskimmel. Die variëteite word vroeg in die seisoen ryp en word dus maklik deur voëls beskadig.

Gebruik

Baie wynboere in Suid Afrika het al met Pinot Blanc as ’n enkel variëteitswyn geëksperimenteer, maar dit word meestal in ’n versnitwyn gebruik. Pinot Gris word as ’n enkel variëteitswyn of versnitwyn gebruik.

Smaak

Pinot Blanc wyn het ’n geel tot heldergroen kleur met botterige sitrus aromas en geure. Pinot Gris wyne wissel van ’n diamant helder tot goue kleur met prominente perske en pruim geure.Translated by Ananda Schoeman