Origanum

© Louise Brodie

Wetenskaplike naam: Origanum vulgare
Algemene naam: Origanum or orego

Origanum kom oorspronklik van Suid-Europa en Noord-Afrika se Mediterreense kus af.

Plantbeskrywing

Die origanumplant is 'n geharde, meerjarige plant wat ongeveer 500 mm hoog groei en grysgroen blare het. Die plant maak verskeie sytakke waarop blare ontwikkel. Die blomme, wat op die punte van takke vorm, is wit, wat die meeste essensiële olie produseer, of pienk en pers, wat meestal vir kookdoeleindes gebruik word.

Gebruike

Origanum word vars en droog in verskeie geregte as smaakmiddel gebruik. Dit word ook gebruik vir die vervaardiging van essensiële olie. Die essensiële olie word vir die antimikrobiese eienskappe daarvan beide ekstern en intern gebruik. Daar word beweer dat dit ook gebruik kan word om Candida en voetskimmel te behandel, insekbyte te verlig, en as insekweerder te dien.

Grondvereistes en Voorbereiding

Origanum verkies goed gedreineerde, sanderige leemgrond met 'n pH-vlak tussen 6.5 en 7.5. Voor enige grondvoorbereiding gedoen word, moet 'n verteenwoordigende grondmonster geneem en na 'n laboratorium gestuur word vir analise en voedingstof aanbevelings. Die grond moet geploeg word om die grondprofiel tot ongeveer 500 mm los te maak en so goeie dreinering te verseker.
Verstel pH-vlakke deur kalk by te voeg. Voeg bemesting of kompos by en ploeg dit in die boonste 400 mm van die grond in, vier tot vyf weke voor aanplanting. Voeg spoorelemente en 'n gebalanseerde voorbereidende kunsmis by die grond in die dae voor aanplanting, en werk dit met 'n skotteleg in die boonste 20 cm van die grond in. Dit sal ook van enige onkruid ontslae raak. Installeer besproeiing en 'n deklaag indien nodig.

Klimaat

Origanum is 'n geharde immergroen plant wat in warm Mediterreense klimate groei en temperature tussen 16°C en 28°C verkies. Dit is ook gehard teen ryp. Grondtemperature moet bo 12°C wees om goeie ontkieming en die vestiging van saailinge te verseker.

Kultivars

Daar word hoofsaaklik twee tipes origanum kommersieël geproduseer. Die verskeidenheid van klone het eers onlangs aandag begin geniet sedert die waarde van die essensiële olie kommersiële produksie opgestoot het. Die subspesie met die pienk en pers blom word meestal in die kombuis gebruik en dié met die wit blom word meestal vir essensiële olie gebruik vir 'n hoër opbrengs.
Variëteite wat beskikbaar is, sluit in: Aureum, Crispum, Country cream, Dark leaf, Gold tip, Nanum, Variegata and Zorba.
Daar is nog baie ander variëteite, en dit is altyd goeie praktyk om raad van die plaaslike voorligtingsbeampte en saadspesialiste te kry oor die beste variëteit vir die produksiearea en die teikenmark.

Translated by Rentia Pretorius