Organiese Beheer van Plantpeste

© Marinda Louw

Wanneer daar 'n oormaat van een soort insek is dit dikwels 'n aanduiding dat die balans versteur is. 'n Plaag kan dus gesien word as die natuur se manier om te wys waar daar moontlike regstellings gemaak kan word op die plaas.
Biologiese beheermetodes sluit 'n hele verskeidenheid opsies in, waaronder feromone, afweer en antivoedingsmiddels, natuurlike vyande asook biologiese ‘toksiene’.
Die insekte wat ons sien as ‘peste’ is dikwels die prooi van ander voordelige insekte en is dit dus belangrik om voordelige insekte te ken, te beskerm en toe te laat om te vermeerder. Plante wat voordelige insekte aanlok, is die Asteraceae familie (soos sonneblomme), klawer, duisendblad (Achillea millefolium), bokwiet en vele meer.

Voorbeelde van voordelige insekte is die larwe van die liewenheersbesie (‘ladybird’). Dit is 'n stekelrige, vratterige slakagtige wurm wat net soveel skade kan aanrig aan peste as die besie self.
Goudogies (‘Lacewings’) behoort aan die Neuroptera-orde (familie: Chrysopidae). Plantluise vorm 'n belangrike deel van hul dieet, alhoewel ander sagtewand-insekte (byvoorbeeld myte, blaaspootjies, witvlieë en bladspringers) asook insekeiers as voedsel benut word. 'n Algemene spesie wat plantluise op koring aanval is die sweefvlieg of Eupeodes corollae (Eng: hoverfly) wat met sy geel en swart agterlyf, baie soos 'n by of perdeby lyk.
Daar is maatskappye wat voordelige insekte teel en verkoop soos die 'ladybirds' Chilocorus nigritus en Cryptolaemus montrouzieri, en die parasitiese wespes Aphytis lingnanensis en Coccidoxenoides perminutus. Hierdie insekte teer op witluis en rooi dopluis.
Hierdie is 'n oorsig oor algemene peste en hoe om dit organies te beheer.

Rooi Spinnekop

Die insek is baie klein. Dit spin 'n web aan die onderkant van die blare en suig dan die sap uit. Die rooi spinnekop floreer in warm toestande en kan beheer word deur 'n deklaag op die grond te sit en die onderkant van die blare met water in 'n fyn missproei te bespuit.

Plantluise

Maak 'n ligte skuim in water deur blouseep of groen ‘sunlight’ seep te gebruik. Moet nooit opwasmiddel of skoonmaakmiddels wat chemikalieë bevat gebruik nie, maar ‘Sunlight Liquid’ is veilig om te gebruik. Doop 'n spons of klein lappie in hierdie seepwater en vee die luise versigtig van die plante af. Herhaal die proses drie keer met drie dae tussenposes. Liewenheersbesies (‘ladybirds’) voed ook op plantluise en hou daarvan om in die blomme van wortels, vinkel en koljander te bly.

Miere en Termiete

Hierdie insekte vreet nie plante nie maar dra soms plantluise aan. Termiete behoort aan 'n ander familie en vreet houtsoorte soos deklae, boombas en selfs meubels en houtvloere. Maal droë rissie tot 'n fyn poeier en strooi dit oor die area waar die miere loop.

Slakke

Slakke beweeg en vreet snags. Hulle hou van koel, klam plekke en kruip weg onder tuin rommel. Hou die produksie-area skoon van dooie blare en ander rommel. Sprinkel houtas of fyngemaakte eierdoppe rondom plante, dit hou die slakke weg. Die skerp eierdoppe beskadig die slakke se sagte liggame. Gewone tafelsout is ook dodelik vir slakke en ander "sagte" plae, maar te veel daarvan kan die vrugbaarheid van die grond benadeel, waarsku Dr. Victor Whitlock, landboukundige konsultant.

Aalwurms

Aalwurms is klein parasitiese wurms wat die sap van plante se wortels uitsuig. Die eiers wat hulle lê veroorsaak knoppe op die wortels wat die groei van plante vertraag. Die knoppe aan die wortels kan ook die plante laat vrek. Deklae, kompos en organiese bemesting produseer organismes wat op aalwurms teer. Die somer blomplant ‘stink Afrikaners’ (‘African marigold’) kan as dekgewas geplant word aangesien dit 'n stof deur hul wortels afskei wat giftig is vir aalwurms. Dit kan ook geoes word tydens blom en as 'n ekstrak gespuit word.
'n Ras van die bakterie Streptomyces voed op die chitien-laag van grondpatogene soos aalwurms en filloksera en word as 'n geregistreerde middel gespuit, sê Bob Cantisano van Organic Ag Advisors.

Snywurms

Snywurms vreet jong plante op grondvlak af. Grawe versigtig met jou vinger in die grond rondom die plant. Jy sal heel moontlik 'n opgekrulde, dik, gryserige wurm vind. Eierdoppe kan fyn gemaal word en rondom saailinge gestrooi word om snywurms weg te hou. 'n Snywurm sop kan ook gemaak word om snywurms te bekamp; sien Resepte vir Natuurlike Plaagbeheermiddels.

Koolwurms en Motte

Die koolmot lê eiers op koolblare. Maak 'n mengsel van meel en sout en skud dit op die kool blare deur 'n ou sokkie met die mengsel te vul. Slegs 'n klein bietjie van die mengsel is nodig op die boonste en onderste oppervlakte van die blare. Sny tamatie blare en plaas dit rondom die plante wat aangeval word of meng een teelepel sout in 2 liter water en bespuit die plante.

Kewers

Probeer om die kewers van die plante te verwyder deur dit met rissie-of knoffelsproei te bespuit. Kewer sap kan ook gemaak word om die kewers te verdryf.

By Marinda Louw