Opregte Vleiskonyne

© Judy Stuart

In Suid-Afrika het ons ‘n verskeidenheid rasse om van te kies vir vleisproduksie. Rasse word geskep met ‘n spesifieke doel en hoe nader ‘n konyn is aan sy rasstandaard, hoe beter sal die eindproduk wees.
Daarom is dit so belangrik om die regte ras te kies vir die finale doel. As ‘n mens konyne teel slegs vir eie gebruik, maak dit nie saak as elke karkas effens anders is nie, maar as daar eers genoeg konyne is om te verkoop vir ‘n inkomste, begin dit belangrik raak dat die produk wat verkoop word aan die koper eenvormigheid bied. Dit kan slegs bereik word deur te boer met opreggeteelde diere.

Opregte stoetdierverkope is ‘n goeie manier om die inkomste uit jou aanteeldiere te verhoog. As diere van ‘n goeie kwaliteit is, kan beter pryse gevra word vir diere wat verkoop word as basisdiere vir ‘n nuwe teler.

Die pelsmark vereis ook uniformiteit om top-pryse te behaal. ‘n Boer wat kwaliteit eenvormige pelse produseer kan óf produkte van hoogstaande gehalte te koop aanbied, óf eenvormige pelse verkoop teen ‘n baie hoër prys as wat ‘n klomp pelse wat nie eenders is nie, sou behaal. Slegs oprreggeteelde konyne kan sulke eenvormigheid verseker.

Konynrasse vir Vleisproduksie

Voordat op ‘n ras besluit word, moet daar eers besluit word op die boerderymetode wat jou situasie die beste sal pas.

New Zealand Whites

New Zealand Whites het oor die wêreld heen bewys dat hulle konsekwente vleisproduseerders is. Hulle vaar die beste in kommersiële produksiemetodes van boerdery. Hulle is goeie moeders en kan tussen 5 tot 8 kleintjies op ‘n keer, tot 8 keer per jaar, grootmaak as hulle aangehou word onder optimum omstandighede. Hierdie boerderymetode vereis hoë vlakke van kommersieel-vervaardigde konynpille. Aanwas is gereed vir slag teen 10 - 14 weke en produseer ‘n pels van lae waarde. Vir hoofsaaklik eie en gemeenskapsverbruik, met hoofsaaklik ruvoer as voedingsbron, is hierdie ras nie ‘n praktiese keuse nie.

New Zealand Reds

©Judy Stuart
Die New Zealand Reds het ‘n ryk, rooi pels, baie soortgelyk aan die kleur van ‘n rooibok. Hulle pas makliker aan by ‘n dieet van hoofsaaklik ruvoer en ‘n stadiger produksietempo. Wyfies kan gemiddeld vier keer per jaar 5 tot 8 kleintjies lewer. Jong konyne kan gevoer word met graan of konynpille, maar hoofsaaklik groente-afval en goeie kwaliteit hooi. Hulle is slaggereed vanaf 16 weke en lewer ‘n goeie kwaliteit pels.

Chinchilla Gigantas

©Judy Stuart
Die Chinchilla Giganta is ‘n stadig groeiende konyn, uiters geskik vir ‘n hoë ruvoer dieet en bekend daarvoor dat hulle baie groot werpsels lewer. Hulle is grys van kleur en lewer ‘n top-kwaliteit pels indien hulle eers geslag word nadat die baba-pels vervang is met die eerste volwasse pels.

Californians

Hierdie is een van die top kommersiële rasse en word ekstensief in die VSA gebruik vir kommersiële vleisproduksie. Hulle het baie soortgelyke behoeftes as die New Zealand White en lewer ook ‘n wit pels.

Cinnamons

©Judy Stuart
Cinnamons is ideaal vir hoë ruvoer diëte en is baie maklik om te hanteer. Hulle het ‘n geskakeerde pels – rooi wat skakeer tot houtskool op die flanke.

Translated by Elna Van Rhyn