Onkruid in Wingerd

© Louise Brodie

Onkruidgewasse word gegroepeer in klasse soos breëblaar, grasse, meerjarig of eenjarig. Onder droëland toestande sal daar veral winter en lentegroeiende onkruide voorkom en in nat gebiede is dit hoofsaaklik kweek en riete wat kan voorkom.

Die produsent moet die groei-eienskappe van verskillende onkruide ken; byvoorbeeld of dit ’n meerjarige of ’n eenjarige gras is aangesien onkruidsoorte verskil in gevoeligheid vir onkruiddoders. Onkruiddoders vir die gebruik vir grasse en breëblaaronkruide verskil ook. Die aanhoudende gebruik van grasdoders kan meebring dat breëblaar-onkruidsoorte kan toeneem.

Die tyd van toediening is baie belangrik vir die effektiewe werking van die onkruiddoder aangesien verkeerde toediening jong wingerde kan beskadig. Konstante beheer voordat die plant kan saadskiet kan meebring dat die saadbron verminder.

Aan die ander kant van die saak kan die verwydering van onkruid meebring dat meer grond blootgestel is aan die son (verhoogde verdamping van water) en erosie. By wingerde wat op hellings geplant is, kan spuitstowwe en bemesting afloop en waterbronne besmet.

Weerstandbiedenheid van onkruid teen chemiese spuitstowwe is n groot probleem daarom is dit is baie belangrik dat daar oorgeskakel word na geïntegreerde onkruidbeheerstelsels toe. Geïntegreerde onkruidbeheer is ‘n kombinasie van verskeie metodes van onkruidbeheer.

Dit sluit in meganiese, fisiese, chemiese of biologiese metodes. Die geheim van geïntegreerde onkruidbeheer is om verskillende metodes so te kombineer dat die onkruide nie ‘n weerstand kan ontwikkel nie. In ‘n graangewas soos koring of canola word onkruide fisies beheer deur voorsaai of voorplant bewerkings te doen.

Nog ‘n vorm van fisiese onkruid-beheer is om die gewas so goed as moontlik te laat groei sodat daar nie kompetisie deur onkruid is nie. Nog ‘n fisiese metode van onkruidbeheer is skoffelaksies of die plant van dekgewasse tussen permanente gewasse soos wingerd of vrugtebome.

Om saadvorming van probleemonkruide te verhoed, kan hawer gesaai word as wisselbougewas en dan hooi of kuilvoer van beide die hawer en die onkruid te maak. Daar is ook gevind dat deklaag, sekere dekgewasse en die rotasie van dekgewasse, die groei van onkruid kan beheer.

Translated by Marinda Louw