Ondersoek van die Vredefort Koepel

Plaaslike Navorsers

In Suid-Afrika het ontwikkeling in die impak-wetenskap ons egter klaarblyklik verbygegaan. In 1916 was S.J. Shand die eerste om die eienaardige gemelte rots fenomeen wat hy ‘pseudotachylite’ genoem het, te beskryf. Hy het egter nie die moontlike vulkaniese oorsprong van die rots verwerp nie. Die eerste gedetailleerde ondersoek van die koepel wat in 1925 uitgevoer is, het tot die slotsom gekom dat die koepel die gevolg was van ‘n reuse vulkaniese gasontploffing. In 1936 het twee navorsers voorgestel dat ‘n impak die koepel veroorsaak het, maar die voorstel is meerendeels geïgnoreer deur die plaaslike navorsers.

Die struikelblok was die struktuur van die koepel self. Hoe kon ‘n impak van bo veroorsaak dat die grond oplig? Dit was tog seker eerder te wyte aan ‘n interne ontploffing of indringing? Nietemin, in 1947 het ‘n geoloog genaamd R.A. Daly by die impak hipotese aangesluit en voorgestel dat die vrystel van drukking na die impak moontlik kon veroorsaak het dat die rotslae weer bind en oplig om die koepelstruktuur te veroorsaak. Die vader van Suid-Afrikaanse geologie, Alex du Toit, kon nie oortuig word nie en het bevind dat die koepel die resultaat was van tektoniese prosesse.

Die Argument Duur Voort

Die argument het vir jare voortgeduur. Internasionale opinie het geneig om aan die kant van die impak-skool te wees, maar Suid-Afrikaanse navorsers het aanhoudend navorsing publiseer wat gedui het op ‘n interne (magmatiese of tektoniese) oorsprong. In die 1060’s het ‘n verslag van die Geological Survey of Ottawa die onderskeid tussen twee soorte kraters gemaak: die met ‘n deursnit kleiner as etlike kilometer, wat geneig was om ‘n eenvoudige kom-vorm te hê, en die wat groter as etlike kilometer was en geneig was om ‘n sentrale opwelling van ouer rotse omring deur ‘n kraag van jonger lae gehad het.

Hierdie ‘komplekse’ kraterpatroon het Vredefort perfek beskryf. Nogtans het die plaaslike wetenskaplikes volgehou met hul hipotese en moed geskep uit die werk van internasionale kripto-ontploffingsdeskundige, Walter Bucher, wat beweer het dat koepelstrukture veroorsaak is deur uitbrekings van warm gas wat gelek het deur swakplekke in die kors van die aarde.

Skokmetamorfisme

Ten spyte van die terughoudendheid van plaaslike navorsers, het die begrip van skokmetamorfisme verder ontwikkel. In 1968 is ‘n internasionale konferensie oor die onderwep gehou waar deskundiges van oor die wêreld heen bymekaargebring is. Dit het aan die impak-teoriste hernude dryfkrag gegee en oor die volgende aantal jare is beduidende vooruitgang gemaak.

Veld-verslae oor aard-kraters, maanrotsmonsters en laboratoriumtoetse het al meer ooreengestem, en die impak-hipotese het al hoe meer veld gewen. Teen die einde van die 1970’s was 120 impak-strukture in verskeie dele van die wêreld reeds identifiseer en ‘n stel kenmerkend rotsvorme tipies aan baie kraters beskryf. Hierdie rotse is gesamentlik ‘impactites’ genoem – ‘n woord wat ‘n mens laat dink aan lede van ‘n aerobiese klas, of mense in ‘n volgepakte hyser.

Teen die 1980’s was die meeste internasionale deskundiges oortuig en buitelandse universiteite het geleer dat die Vredefort Koepel deur ‘n impakgebeurtenis veroorsaak is. Maar nie in Suid-Afrika nie. Hier het die kanniedode (gelei deur die vooraanstaande geoloog Louis Nicolaysen) vasgeklou aan hul geloof in ‘n kriptovulkaniese oorsprong vir die koepel. Uiteindelik is ‘n konferensie gehou om die konflik op te los. Dis in 1987 in Parys gehou en deskundiges uit beide kampe het die konferensie toegespreek. Daar kon egter nie tot ‘n finale uitsluitsel gekom word nie. Uiteindelik is daar tot stemming oorgegaan en ‘n klein meerderheid het hul ondersteuning van ‘n eksogeniese (eksterne impak) oorsprong aangedui.

Op Atoomvlak

Om ‘n lang storie kort te maak, die volgende dekade is gevul met ‘n stortvloed verslae deur navorsers in Suid-Afrika en die res van die wêreld. Die koepel is deurtastend ondersoek deur geoloë en stadig is die bewyse opgestapel. ‘Coesite’ and ‘Shishovite’ is gevind, mikrodeformasies in kwartskristalle is identifiseer en die presiese aard van die metamorfisme in die rotse is bestudeer. Uiteindelik het Hughes Leroux dit in 1997 reggekry om rotsmonsters op atomiese vlak te analiseer. Sy bevindings het onteenseglik bewys dat die Vredefort Koepel ‘n ontsaglike impakgebeurtenis beleef het wat die rotse op ‘n fundamentele vlak vervorm het. Die ongelowiges is finaal verslaan.

Translated by Elna Van Rhyn