Velprobleme by Varke - Nog Eksterne Parasiete

© Glenneis Kriel

Bosluise

Sagte bosluise mag in krale, vlakvarkgate of huise bly, terwyl harde bosluise gewoonlik in weivelde voorkom. Bosluise kom snags uit en suig varke, mense of ander diere se bloed uit. Bedags kruip hulle in krake of gate onder die grond weg. Bosluise veroorsaak nie net bloedarmoede en ’n erge irritasie wat ’n negatiewe impak op voeding kan hê en tot sekondêre infeksies kan lei nie, maar is ook ’n draer van Afrika-varkgriep (African swine fever).
Behandeling
Die behandeling van die varke alleenlik is nie genoeg nie. Die skuilings moet ook ontsmet en skoongemaak word. Vra jou veearts of dieregesondheid tegnikus om ’n behandelingsprogram aan te beveel. Hou jou varke weg van vlakvarke en ander diere wat draers van bosluise is.

Vlieë

Vlieë is nie net irriterend nie, maar kan ook infeksies veroorsaak en die draer van siektes wees. Stalvlieë is klein en leef in verrottende plantegroei, kompos en mis. Hulle bly by varke en suig hulle bloed uit. Die stalvlieg kan Afrika-varkgriep (African swine fever) tussen die varke oordra.
Brommers is medium tot groot en soms blink of groen van kleur. Hulle broei in mis en verrottende plantmateriaal asook dooie diere. Hulle voed op varke se wonde en kan genesing van die wonde verhoed.
Perdevlieë is harig en mediumgroot. Hulle voed op mis, vars en verrottende materiaal en kan siektes tussen varke oordra.
Behandeling
Vlieë moet voorkom word deur die areas waar die varke geproduseer word skoon te hou en te verseker dat daar nie broeiplek naby die areas is nie. In die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-Organisasie se Pigs for Profit handleiding word daar voorgestel dat boere wond-spuitmiddels met vliegafwerende eienskappe gebruik. Wonde kan ook met Vaseline bedek word om vlieë te voorkom. Die hang van droë blare, stroke plastiek of skadunet kan ook help om vlieë van varke af weg te hou.

Vlooie

Vlooie is klein springende insekte. Alhoewel vlooie nie altyd siektes dra nie, kan groot besmettings bloedarmoede veroorsaak aangesien hulle varke se bloed uitsuig. Hulle kruip in krake, gate of sand weg.
Behandeling
Raadpleeg ’n veearts of dieregesondheid tegnikus vir ’n dipstof of poeier om te gebruik. Hou jou varke weg van ander diere, soos troeteldiere, wat draers van vlooie kan wees.

Translated by Ananda Schoeman