Crocodiles
Krokodille

© Roger de la Harpe

Voorkoms

Aansienlike variasie bestaan binne die verspreidingsgebied van die Nylkrokodil. Oor die algemeen is dit ‘n groot krokodil wat gemiddeld 5m lank is, maar volgens oorlewering in seldsame gevalle selfs 6m lank kan word. Daar is selfs twyfelagtige verwysings na 7 m krokodille, maar dis moeilik verifieerbaar.
Daar is redelike bewyse dat volwasse Nylkrokodille in koeler klimate effens kleiner word (4m). Daar is twee bekende dwerg-Nylkrokodil bevolkings wat leef op die uiterste grense van die spesies se verspreidingsgebied – in Mali en selfs die Sahara woestyn! Weens ondernormale toestande, word volwasse krokodille slegs 2 en 3m lank. Jong krokodille is donkerolyfbruin met swart gekruiste bande oor die stert en lyf. Die bande raak dowwer by volwasse krokodille.

Dieet

Hoewel jong krokodille oor die algemeen beperk is tot klein waterlewende ongewerweldes en insekte, beweeg hulle gou aan na gewerweldes soos vis, amfibiërs en reptiele. Volwasse krokodille vreet egter ‘n wye reeks groot gewerweldes, insluitend wildsbokke, buffels, jong seekoeie en groot katte, hoewel vis en kleiner gewerweldes dikwels die grootste gedeelte van hul dieet vorm. Nylkrokodille het ‘n reputasie as mensvreters omdat hulle waarskynlik al meer mense doodgemaak het as al die ander krokodilspesies saam. Saam met seekoeie en leeus is krokodille verantwoordelik vir ‘n paar honderd sterftes en verdwynings elke jaar, hoewel presiese getalle moeilik is om te verifieer. Nylkrokodille sal ook aas saam met ander diere aan karkasse en dit blyk dan dat die verskillende aasvreters mekaar se teenwoordigheid sal verdra. Daar is al meermale prooidiere opgemerk waar hulle onder stompe en klippe onder die water ingedruk is wat daarop dui dat krokodille onbenutte prooi bêre vir later.
Dit word soms gesê dat dit noodsaaklik is dat die krokodil se prooi eers moet ontbind voordat die krokodil in staat is om stukke af te skeur, maar dis waarskynlik onwaar. Hoewel die vleis waarskynlik sagter word as die prooi in die water bly nadat dit dood is, sal krokodille verrotte vleis vermy. Terwyl krokodille vreet, sal ‘n aantal van hulle aan die karkas vasbyt terwyl hulle hul liggame in die rondte draai. Dit vergemaklik die proses vir die ander om groot stukke vleis af te skeur en in te sluk. Ander gesamentlike vreet-gedrag is ook opgemerk, soos dat baie krokodille saamwerk om ‘n area in die water af te sper en sodoende vis binne-in te konsentreer. ‘n Vreet-hiërargie word dikwels opgemerk in sulke situasies, met die meer dominante diere wat eerste vreet.
Goepe krokodille sal dikwels op land gaan aas aan prooi wat etlike meter van die water af gevang is. Volwasse krokodille is ook al waargeneem waar hulle visvang deur hul sterte en liggame te gebruik om vis na die wal van die rivier toe aan te keer en dit dan met sywaartse happe van die bek te vang.

Voortplanting

Hierdie spesies grawe gate van tot 50 cm diep in sanderige rivierwalle, etlike meters weg van die water. Neste is dikwels na-aan ander neste. Hierdie gedrag hang af van geografiese ligging. In die noorde vind dit plaas tydens die droë seisoen, maar verder suid, gewoonlik vanaf November tot aan die einde van Desember, aan die begin van die reënseisoen.
Vroulike krokodille bereik seksuele volwassenheid rondom 2.6 m en manlike krokodille rondom 3.1 m. Wyfie krokodille lê om en by 40 tot 60 eiers in die nes, hoewel die getal aansienlik mag verskil tussen verskillende populasies. Die wyfie krokodil bly die hele tyd naby die nes. Inkubasie duur tussen 80 tot 90 dae (kan duur vanaf 70 tot 100 dae) waarna die wyfie krokodil die nes oopgrawe en die kleintjies na die water toe dra.
Beide manlike en vroulike krokodille is al waargeneem waar hulle die kleintjies help om uit die eiers uit te kom deur die eiers liggies te kraak ussen hulle tonge en boonste verhemelte. Baba krokodille bly saam met jonges tot ongeveer twee jaar nadat hulle uitgebroei het, dikwels in ‘n crèche saam met ander vroulike krokodille. Soos baie krokodille, neig ouer jonges om weg te bly van ouer, meer territorial diere.
Ten spyte van die waaksaamheid van die wyfie tydens die inkubasietyd, word ‘n groot aantal neste geplunder deur ‘n verskeidenheid diere, van hiënas en likkewane tot mense. Hierdie strooptogte vind gewoonlik plaas wanneer die wyfie verplig is om die nes tydelik te verlaat sodat sy kan gaan afkoel in die water.

Gedrag

Sosiale gedrag van Nylkrokodille word dikwels onderskat, hoewel daar nog baie aspekte is waaroor min bekend is. Dit blyk dat die sosiale status waarskynlik ‘n individu se voedingsukses beïnvloed, sodat minder dominante diere neig om minder te eet wanneer hulle in gereelde sosiale aanraking is met ander, meer dominante diere.

Verspreiding

Suid-Afrika, Botswana, Egipte, Ethopië, Ivoorkus, Kenia, Madagaskar, Mosambiek, Namibië, Somalië, Swaziland, Zambië, Zimbabwe.

Latynse naam

Crocodylus niloticus
Gegewe die wye verspreidingsgebied, is ‘n aantal populasieverskille opgemerk, en verskeie subspesies voorgestel. Hulle word egter selde onderskei in die literatuur en word nie amptelik erken nie. C. n. africanus (Oos-Afrikaanse Nylkrokodil), C. n. chamses (Wes-Afrikaanse Nylkrokodil), C. n. madagascariensis (Malgassy Nylkrokodil, Malgassy alligator, Croco Mada), C. n. niloticus (Ethiopiese Nylkrokodil), C. n. pauciscutaris (Keniaanse Nylkrokodil, Keniaanse alligator, Keniaanse kaaiman), C. n. suchus (Sentraal-Afrikaanse Nylkrokodil).