Kulturele Zulu Praktyke

Belangrike Deel van Zulu Lewe

©Dr Peter Magubane

Musiek, sang en dans het tradisioneel 'n belangrike rol gespeel in die Zulu samelewing, nie net in die lewe van die individu nie, maar ook in die gemeenskap as 'n geheel. Dans was nog altyd belangrik in die handhawing van groepsolidariteit, veral tydens tye van stres, vreugde en verandering, voor gevegte, by troues en by al die belangrike oorgangseremonies tot 'n nuwe fase of groep (gewoonlik volgens ouderom).

Musiekinstrumente, soos die drom, wat algemeen gebruik was deur ander groepe, is nie gebruik in die meeste tradisionele Zulu danse nie. Trouens, die enigste drom wat in die vroeë tradisionele Zulu-kultuur bekend was is die iNgungu, of pot-drom, wat bestaan uit 'n stukkie bok-vel wat oor die mond van 'n groot kleipot (imbiza) strek.

Volgens beskikbare rekords, is die isigubu, of hout drom,  wat onder die algemeen onder die Zulu vandag voorkom, moontlik van hul Thonga bure gekopieer. Die Zulu het 'n aantal strykinstrumente waarvan die uGubu, 'n snaar boog met 'n kalbas aan die een kant, die bekendste was. Dans het nog altyd groot rituele waarde in die lewe van die Zulu nasie gehad, en daar is baie geleenthede waar dit 'n belangrike deel van die seremoniële prosedure vorm.

Seremonies met Betekenis

©Dr Peter Magubane

Wanneer 'n seun of meisie puberteit bereik word daar spesifieke liedjies gesing, terwyl daar baie gedans word. Dieselfde geld vir die huwelik waar die rituele wedersydse antagonisme tussen die twee partye uitgebeeld is deur 'n uitgebreide dans kompetisie. Veral in die verlede, toe jag nog algemeen was, het dans ook rituele waarde voor 'n jagtog gehad.

Voordat die mans gegaan het om te jag het hulle bymekaar gekom in die beeskraal waar hulle gedans het, terwyl hulle gespog het met hul bekwaamheid en hoe dapper hulle sou wees tydens die jagtog. Op hierdie manier is die entoesiasme vir die jag gestimuleer en verwagtinge verhoog.

Die mees skouspelagtige en imponerende van alle Zulu danse was dié van die koning se regimente in hul volle regiment uniforms, voor hulle gaan veg het en by die jaarlikse dans by die koning se paleis net ná die Fees van die Eerste Vrugte. Die soldate se dans roetine was energiek en kragtig, asook akkuraat in tydsberekening en postuur. Die effek van hierdie danse gekombineer met hul ryk versierde uniforms was inderdaad indrukwekkend.

Translated by Wilma Koeppen