Konyntoerusting

© Karoline Steenekamp

Hierdie afdeling handel oor die toerusting wat nodig is om ‘n konynboerdery te begin. Dit sluit in voerders, ‘n watersisteem, hooirakkies, stoorhouers vir voer, skoonmaaktoerusting, neskaste en vervoerhokke en noodhulptoerusting.

Voerders

Voerders moet verskaf word vir alle tipes voer wat gebruik word. Konynpille werk die beste met voerders wat aan die buitekant van die hokke vashaak sodat pille gegee kan word sonder om die deur van elke hok oop te maak. Voerders of bakke moet aan die hok vasgemaak word sodat die konyn dit nie kan omstamp en die kos vermors nie.
Voerders wat gebruik word in die hokke van wyfies met kleintjies, of hokke met groepe konyne daarin, moet lank genoeg wees dat al die diere saam gemaklik langs mekaar kan sit en eet.
Voerders kan gemaak word van gegalvaniseerde metaal, pottebakkersklei en selfs afgesnyde koeldrankbottels – wat die konyne natuurlik sal kou, maar wat maklik vervang kan word.
Voerders vir jong konyntjies moet smal genoeg wees dat die kleintjies nie daarin kan klim en op die kos sit nie. Alle voerders moet te alle tye skoon gehou word. (Sien Welsyn).

Waterstelsel

Vars water moet te alle tye beskikbaar wees en waternippels is die ideale manier om dit te voorsien. Geoutomatiseerde waterstelsels is die mees arbeidsbesparende wyse waarop water voorsien kan word. Terwyl hulle baie voordelig kan wees, is dit egter baie belangrik om te verseker dat nippels nie geblokkeer is of drup nie.
Hulle vereis konstante bestuur. Die grootste nadeel van die nippelstelsel is dat ‘n boer nooit seker kan wees oor die hoeveelheid water wat ‘n spesifieke konyn ingeneem het in ‘n 24 uur tydperk nie. Dit negeer ‘n baie waardevolle aanduiding van die welstand van die konyn.
Nogtans verseker die oorhoofse tenks dat die konyne te alle tye water beskikbaar het, mits hulle vol gehou word. Wanneer medikasie aan die hele boerdery toegedien moet word, kan dit ook deur middel van hierdie stelsel toegedien word.

Hooirakkies

Hooi is noodsaaklik vir die welstand van konyne. Die beste manier om dit aan die konyne beskikbaar te stel is deur middel van ‘n rak aan die buitekant van die hok, anders sit die konyne op die hooi. Die konyne trek dan die hooi deur die draad van die hok. Dit kan ook vasgemaak word aan die binnekant van die hok.

Stoorhouers

Alle voer moet gestoor word in verseelde houers om varsheid te verseker en rotte en muise buite te hou.

Translated by Elna Van Rhyn