Konynhokke

© Karoline Steenekamp

Materiaal vir Konynhokke

Die meeste konynhokke word gemaak van gegalvaniseerde kuikendraad omdat draadhokke maklik is om skoon te maak, maar dan moet die draadhokke óf binne in ‘n gebou, óf onder ‘n dakstruktuur geplaas word. Die vloerdraad moet 25 x 12.5 mm groot wees en die draad vir die sykante óf 25 x 25 mm, óf 25 x 50 mm wees.
Houthokke (met dakke) kan buite wees. Houthokke voorsien ‘n gemaklike vloer maar benodig beddegoed en is dus meer arbeidsintensief.
Bamboeshokke word baie gebruik en verskaf uitstekende beskerming teen die natuur en roofdiere.
Voorafvervaardigde sementblaaie met draaddeure word op groot skaal in Suid Amerika gebruik.

Grootte van Konynhokke

As jy met konyne wil boer is dit die beste om elke konyn in sy eie hok aan te hou. Mannetjies het effens kleiner hokke as wyfies nodig want hulle is amper altyd alleen, behalwe wanneer wyfies vir ‘n rukkie na hulle gebring word vir paring.
Wyfies benodig die grootste moontlike hokke. Die hok moet ruim genoeg wees om ‘n neskas vir die kleintjies te bevat en ook ruimte bied vir die groeiende kleintjies totdat hulle gespeen word. ‘n Hok van 1 m x 0.5 m is ideaal as ‘n broeihok. (Sien Toerusting).
Speenhokke word gebruik om jong konyntjies te huisves sodra hulle van hul moeders weggeneem word. Ten minste twee hokke per wyfie is nodig wanneer die geslag van ‘n werpsel bepaal word (geskei volgens geslag) met spening en ‘n hok is nodig vir die wyfies en een vir die mannetjies.
Sodra die geslag van kleintjies vasgestel is, kan ‘n groter groep van een geslag gesamentlik in ‘n koloniehok aangehou word om groot te word. Dis ‘n groter hok waarin tot 10 klein konyntjies kan saamwoon. Hierdie hokke kan gemaak word van draad of hout, of kan gebou word op ‘n sementblad van stene en planke. Dit moet hoog genoeg wees dat die konyntjies nie kan uitspring nie. Ou perdestalle met sementvloere is ideaal vir hierdie doel.

Translated by Elna Van Rhyn