Konyne – Mediumgrootte Dubbeldoel Rasse

© Judy Stuart

Dit is altyd raadsaam om na alle moontlike bemarkingsgeleenthede te kyk wanneer jy met konyne boer. Hoewel die groot rasse soos New Zealand Whites en Californians oor die algemeen gebruik word deur grootskaalse kommersiële boerderye, is dit dikwels meer lonend vir kleinskaalse boere om medium-grootte, dubbeldoel konyne te gebruik.

Volhoubare boerdery vereis baie minder gekoopte voer omdat die konyne hoofsaaklik op hooi en groenigheid uit die groente- en kruietuin gevoer word. Hulle groei veel stadiger as komersieel-gevoerde diere. Dit gee hulle tyd om ‘n volledige volwasse pels te ontwikkel voordat hulle geslag word.
Die pels van ‘n volwasse konyn lewer die hoogste moontlike kwaliteit; daarom die hoogste prys wanneer óf verkoop, óf gebruik om ‘n kwaliteitproduk te produseer vir verkoop.

Geskikte Dubbeldoel Rasse

Silver Fox

©Judy Stuart
Silver Foxes is ‘n goed gevestigde ras in Suid-Afrika met ‘n pragtige swart pels, met hier en daar lang silwer-wit hare op die sye. Hulle teel goed en is uitstekende moeders. Weens hulle swart pelse mag hulle nooit direk in die son kom nie, want dan verander die kleur na ‘n roesbruin en bederf die pels.

Beige

©Judy Stuart
Beige is ‘n maklik hanteerbare ras met ‘n baie digte pels wat syerig voel. Hulle is beige gekleur met blou aan die bokant.

Rex

©Judy Stuart
Rexe kan baie kleure wees en is verreweg die beste pelskonyne. Hulle benodig spesiale behuising weens hulle pragtige, fyn pelse. Hull neig om seer voete te kry, en het te alle tye goeie nesmateriaal en baie skoon hokke nodig.
Rexe verskil van ander konyne ten opsigte van hulle pelse. Die pelse van alle konyne bestaan uit twee soorte hare. Die bolaag bestaan uit reguit hare terwyl die onderlaag bestaan uit kort, syerige hare. In die Rex is die onderlaag langer as die bolaag en die pels is weelderig en voel soos duur fluweel.

Dis beter om eers ‘n bietjie ervaring op te doen van konynboerdery in die algemeen voordat daar met hierdie pragtige, maar effens moeilike konyne geboer word.

Satin

©Judy Stuart
Satinkonyne kom ook in verskillende kleure voor en het ‘n baie blink pels. Dit is weens die struktuur van elke haar wat verskil van enige ander ras. Die hare is driehoekig en weerkaats lig verskillend. Hulle is maklik om te hanteer en baie goeie moeders.

Angorakonyne

©Judy Stuart
Angorakonyne is ‘n baie besonderse ras. Hulle word nie geteel vir vleis nie, maar slegs vir wolproduksie. Hulle word nie geslag om hul wol te kry nie, maar word vier maal per jaar geskeer soos skape. Die wol kan ook gepluk, of saggies van die konyn getrek word wanneer hy besig is om te verhaar. Angoras kom in baie verskillende kleure, maar vereis harde werk; hulle moet gereeld geborsel word om te verhoed dat die wol koek.
Daarom moet hulle in draadhokke bo die grond gehou word. Hulle is maklik om te teel en diere wat óf te oud is, of nie ‘n goeie wolproduseerder is nie, kan geslag word en sal ‘n goeie karkas lewer.
Angorawol is ideaal om met die hand gespin te word in pragtige draad waarmee gebrei, gehekel of geweef word. Dit sou nodig wees om te belê in ‘n spinwiel en spinlesse, maar hierdie vaardigheid kan uiteindelik ‘n goeie inkomste verskaf aan die beoefenaar of die boer.

Translated by Elna Van Rhyn