Knoffel Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Knoffel plant voort deur die knoffelhuisies, wat die bol van die knoffelplant uitmaak, te plant.

Hoe om te plant

Die knoffelhuisies word in beddings van ongeveer een meter wyd geplant. Die beddings moet opgeërd word of gelykgemaak word om goeie dreinering te verseker. Die sterk en gesonde knoffelbolle word geskil en die huisies versigtig van mekaar geskei. Vore van vyf sentimeter diep word deur ’n trekker gemaak vir die verlangde spasiëring.

Spasiëring

Die knoffelhuisies word gewoonlik 10 sentimeter uitmekaar in rye wat 20 tot 30 sentimeter van mekaar af is geplant, afhangende van die verlangde grootte van die bolle. Dit is omtrent 400 000 – 500 000 knoffelbolle per hektaar.

Planttyd

Knoffel kan enige tyd vanaf laat Februarie tot Mei geplant word.

Groeiperiode

Dit kan vyf tot ses maande na planttyd geoes word.

Bemesting

Voor aanplanting moet ’n behoorlike grondanalise gedoen word om die voedingswaarde van die grond te bepaal. Gedurende grondvoorbereiding kan hoendermis in die grond ingewerk word. Die geplante knoffelhuisies sal die reserwes in die knoffelhuisie gebruik om wortel te skiet en die eerste jong blare te dra.
’n Toediening van 500 kg - 800 kg 3: 2: 3, ’n mengsel van stikstof, fosfor en kalium, moet omtrent 14 – 21 dae na planttyd gegee word. Dit sal dan vir die uitgeloopte knoffelhuisies beskikbaar wees en is noodsaaklik vir goeie wortel- en blaar ontwikkeling, wat weer die ontwikkeling van ’n groot, gesonde knoffelbol tot gevolg het.
Ongeveer agt weke na planttyd kan ’n verdere toediening van 250 kg - 300 kg 3: 2: 3 gegee word. As die plante sterk is en goed groei moet daar geen verdere kunsmis gebruik word nie. In minder vrugbare of sanderige grond kan verdere toedienings vereis word.

Besproeiing

’n Goeie deklaag is altyd aan te bevele omdat dit onkruid onderdruk en die grondvog behou. Die hoeveelheid water sal van die grondsoort en klimaatstoestande afhang. Knoffel is sensitief vir uitdroging omdat dit ’n baie vlak wortelstelsel het. Om hierdie risiko te verminder is dit dus noodsaaklik om konsekwent die grondvog in die boonste 30 sentimeter grond te kontroleer. Dit kan met ’n neutron vogmeter of as dit nie moontlik is nie met ’n graaf gedoen word.

Translated by Ananda Schoeman