Jeugherinneringe van die Grandmothers Against Poverty and Aids

Die 'Grandmothers Against Poverty and Aids' (GAPA) groeplede vertel van hulle jeugherinneringe oor grootword, skoolgaan en ontvangs van die lewe se harde kant op baie jong ouderdomme.

Beauty Skefile

Een van die vroegste dinge wat ek kan onthou is die speel van kinderspeletjies soos hoela hoepels in die strate van Retreat in Kaapstad. Ons was swart, wit en gekleurde kinders wat almal saamgespeel het. Ek het toe nie eens geweet ek was ‘n inboorling nie.

Ek het na ‘n Afrikaanse skool toe gegaan en het die taal verstaan omdat ek tussen Afrikaanssprekendes grootgeword het. Dit sou later verander. In daardie dae was die teken dat jy skoolgereed was, as jy jou arm bo-oor jou kop kon sit en aan jou oor aan die ander kant vat. So, ek weet nie hoe oud ek was toe ek begin skoolgaan het nie, maar ek was al groot – ouer as kinders van vandag wat begin skoolgaan.

Dinge was beter in daardie dae. Vandag se kinders weet te veel. Jy kan niks doen nie, of hulle wil weet waarom jy dit doen. In daardie dae, as jy sulke vrae aan jou ouers gestel het, sou jy ‘n klap kry met die woorde: “Vir wat vra jy so baie vrae?” en dit sou die einde van die verhaal wees. Deesdae het kinders so baie te sê, argumenteer heeltyd met jou en dink hulle het al die antwoorde.

Tenjiwe Tutu

©Eric Miller

As kinders was ons tevrede met wat ons gehad het, omdat ons niks anders geken het nie. Dit was ‘n pragtige omgewing. Daar was oral gras rondom ons huis en omtrent ‘n kilometer weg was berge wat bedek was met digte bosse. Ek het so ‘n paar jaar gelede, toe ek 55 of 54 was, teruggegaan, en ek kon nie baie ver teen die berge opstap nie, maar as ‘n klein dogtertjie het ek opgehardloop sonder enige probleme, soos ‘n klein bokkie, tlok, tlok, tlok.

My maatjies en ek het vir ons poppe gemaak van droë mieliestronke nadat die mieliepitte gemaal is. Ons het ook vir ons poppe huise gemaak van stokke wat aanmekaar gehou is deur gras wat ons daardeur geweef het en wat ons met mooi veldblomme versier het.

Goldie Qayiya

©Eric Miller

In my kinderjare het ons die berg uitgeklim vir die pret. Daar was dikwels tot 15 van ons: my pa, ma, haar suster en al die kinders. Ons het emmers stampmielies en –bone met ‘n laag Holsum kookvet bo-oor saamgedra om bo te eet. Ons het baie varke gehad en as ons onlangs een geslag het, het ons ook van die vleis saamgeneem vir ons piekniek.

Na ‘n uur-en-‘n-half se klim was ons bo en kon ons die wye kring berge sien wat die nedersettings om St Mark’s omring het, die rivier wat sy paadjie gesny het deur die land onder ons en soms, in die verte, wilde diere. Partykeer het ons ‘n springbok gesien, maar meestal was dit jakkalse.

Felicia Mfamana

©Eric Miller

Ek was omtrent 11 en soos gewoonlik, het my maats Nombeko, Jongikhaya en Nomvulazana gekom om te speel. Ons poppe was gemaak van droë mieliestronke van die mielies wat ons ouers op die lande gekweek het. Die kinderspeletjies wat ek gespeel het toe ons jonk was, was alles goed en wel, maar soos ek ouer geword het het ek besef dat ek glad nie wou trou nie.

Ek wou leer en ‘n onderwyseres word. Ek sou ‘n goeie werk hê waardeur ek kinders kon help, en ook my ouers bystaan. “Jy moet geleerdheid hê,” het my pa altyd vir my gesê. “Gaan leer hoe om goed te skryf en te praat. Ek wil hê julle kinders moet ‘n baie makliker lewe hê as wat ek gehad het, so leer alles wat julle kan.”

Hy het uit ondervinding gepraat. As ‘n jong man het hy ondergronds gewerk as ‘n myner; later het hy baie hard gewerk op sy lande en ook om na sy koeie te kyk. Dit was ‘n goeie lewe, maar ‘n harde een. Hy wou hê dinge moes vir ons anders wees. Maar sy wense was nie genoeg nie.

Toe ek in standerd vyf was, is my ma oorlede. Ons het nooit honger gely nie want daar was altyd genoeg groente uit ons lande en die melk van ons koeie. Maar na my ma se dood was daar nooit genoeg geld vir skooluniforms, skoolskoene en skoolboeke nie. Ek was baie ontsteld, en my pa ook, maar daar was niks wat ons kon doen nie. Ek moes ophou skoolgaan.

Translated by Elna Van Rhyn