Identifisering Van Pluimveeprobleme – Sintuie

© Chris Daly

Benewens hul oë behoort boere ook hul ander sintuie in te span om siektes en bestuursprobleme te identifiseer. (Lees meer oor hoe om jou oë te gebruik in die identifisering van probleme)

Gebruik jou Ore

Luister na die voëls. ‘n Aanhoudende gepiep is ‘n aanduiding van iets wat verkeerd is. Daar mag ‘n roofdier wees, soos ‘n valk, of ‘n slang, wat die vrede versteur. In so ‘n geval sal die hoenders ook rondskarrel, op soek na skuiling.

Luister ook vir nies, proes, hyg, hoes, roggel of moeisame asemhaling wat mag dui op boonste lugweg probleme, toksiese ammoniakvlakke of ‘n reaksie op die Newcastle-siekte entstof.

Gebruik jou Neus

As jy ongemaklik is in die hok omdat die lug sleg ruik, sal die voëls ook wees. Hurk sodat jy op dieslfde vlak as die voëls is, asem diep in en ruik die lug. Die lug behoort vars te wees, maar die voëls moet aan geen trekke blootgestel word nie. Baie stof sal die lugweë van die voëls irriteer en bevat boonop Echeria coli bakterieë wat tot sekondêre infeksies kan lei.

‘n Skerp ammaniakreuk dui op ‘n probleem met swak ventilasie of die bestuur van afval en drinkwater. Afgesien daarvan dat dit irriterend en skerp ruik vir die neus, sal dit ook vel of oog-irritasies veroorsaak. Die probleem is dat ammoniak alreeds skade aan die boonste lugweë van die voëls aangerig het teen die tyd dat jy dit kan ruik. Kuikens is oor die algemeen meer sensitief vir ammoniak as ouer voëls.

Gebruik jou Mond

Ruik en proe aan die kos en water. Die drinkbakke en water moet skoon genoeg wees dat jy dit ook kan drink. Dieselfde geld die kos. Die water moet nie hoë chloorvlakke hê nie omdat dit ‘n negatiewe impak kan hê op waterinname wat mag lei tot nierprobleme.

Kos wat muf smaak mag mikrotoksiene bevat wat siektes en swak gewigstoename veroorsaak. Te veel sout mag nat uitskeidings veroorsaak, wat weer ‘n impak mag hê op afvalbestuur. Onthou dat kos voedingswaarde verloor wanneer dit oud en muf word.

Gebruik jou Hande

Kyk na die afval en voel daaraan. As dit te nat is, of hard en aanmekaargekoek, is daar ‘n afvalbestuursprobleem wat kan lei tot siektes en beserings.

Tel die hoenders op en evalueer die toestand van die voëls deur te voel aan die spiere op die borsbeen. In ‘n gesonde hoender sal die spier die borsbeen bedek; maar jy sal die borsbeen duidelik voel, met min spierbedekking aan weerskante, as voëls siek is, nie eet nie of nie genoeg kos kry nie.

Translated by Elna Van Rhyn