Hoe Verskil Melkkoeie?

Die hoof melkbeesrasse - Holsteins, Jerseys, Ayrshires en Guernseys - verskil ten opsigte van liggaamsmassa (grootte), melkproduksie en melksamestelling. Die verskille tussen koeie binne ‘n spesifieke ras is ook baie groot.

Karaktereienskappe van Holsteinkoeie

©Louise Brodie
Holsteins het kenmerkende kleurpatrone en is tipies swart en wit van kleur hoewel rooi en wit ook voorkom. Hulle is sterk en swaar koeie en hul liggaamsmassa varieer van 550 tot 750 kg. Holsteins het hoë melkproduksievlakke; gemiddeld sowat 8 550 kg in ‘n laktasieperiode van 305 dae (‘n gemiddelde produksie van 28 liter/dag). Die persentasie melkvet varieer van 3.0% tot 4.2% terwyl die proteïenpersentasie tussen 2.5% en 3.8% varieer.
In gevalle waar die hoeveelheid voer beperk is, is die grootraam Holsteinkoeie minder geskik vir gebruik. In die algemeen word Holsteins gebruik in nulbeweidingstelsels en word in intensiewe behuisingstelsels of oop kampe aangehou. Hulle word totaal gemengde rantsoene (TGR) gevoer. Dié rantsoene bestaan uit mengsels van ruvoere (hooi en kuilvoer) en kragvoere (aangekoopte meel of pille met hoë energie- en proteïenvlakke). Die hoeveelheid melk wat koeie produseer of laktasiestadium bepaal die samestelling van die TGR rantsoene.
Aangesien die Holstein ras die grootste melkbeesras is in die wêreld, is daar jaarliks ‘n groot hoeveelheid bulle jaarliks beskikbaar vir kunsmatige inseminasie. Dit beteken dat dit moontlik sou wees om genetiese vordering te behaal terwyl ander eienskappe soos vrugbaarheid ook verbeter kan word.

Karaktereienskappe van Jerseykoeie

©Chris Daly
Jersey koeie is kleiner as Holsteinkoeie. Hulle is bruin en wit van kleur en weeg sowat 350 tot 450 kg. Hul melkproduksievlakke is laer as dié van Holsteins, sowat 5 000 kg per laktasie. Jersey melk het hoër vastestofvlakke; vetpersentasievlakke van 4.0% tot 5.5% en proteïenpersentasies van 3.5% tot 4.5%. Jerseys het ‘n gematigde temperament hoewel Jersey bulle geneig is om aggressief te wees. Jerseys word dikwels in aangeplante weidingstelsels gebruik omdat hulle goeie wei-vermoëns het. Hulle benodig minder kragvoer weens laer melkproduksievlakke.

Karaktereienskappe van Ayrshirekoeie

© Ayrshire Cattle Breeders’ Society
Ayrshires kom oorspronklik van Skotland en is sterk koeie met goed-aangehegte uiers. Hul kleurpatrone varieer van lig tot diep-rooi of bruin gemeng met wit. Die liggaamsmassa van Ayrshire koeie varieer van 400 tot 600 kg. Hul melkproduksie-, vet- en proteïenpersentasievlakke is tussen dié van Holsteins en Jerseys. Die vetselle in Ayrshire-melk is goedversprei binne die melk sodat die melk ‘n soeter smaak en sagte tekstuur het.

Karaktereienskappe van Guernseykoeie

©Lucinda Morgan, The English Guernsey Cattle Society
Guernseys is koeie van mediumgrootte en is geel tot rooi-bruin van kleur. Die liggaamsmassa van Guernseys varieer van 400 tot 550 kg. Guernseys kan voer doeltreffend omskakel na melkprodukte en produseer hoë kwaliteit melk terwyl hulle 20 - 30% minder voer inneem as groter melkbeesrasse. Guernseys bereik geslagsvolwassenheid vroeër en kan reeds op 22-maande ouderdom vir die eerste keer kalf. Guernseykalwers is groot by geboorte wat tot gevolg het dat hulle maklik is om groot te maak met min kalwingsprobleme. Hul melkproduksie-, vet- en proteïenvlakke is tussen dié van Jerseys en Ayrshires.

By Dr Carel Muller