Hoe Registreer Ek as ’n Organiese Boer?

© Afrisco

Die Suid-Afrikaanse Organiese Sektor Organisasie (SAOSO) is die oorkoepelende organisasie wat ‘Participatory Guarantee Systems-South Africa ‘(PGS‐SA) en Afrisco in staat stel om produsente te help om formeel erkende organiese produsente te word.
Die aanvaarding en publikasie van die SAOSO standaarde het die weg gebaan vir die herbekendstelling van Afrisco. Aanvanklik sal Afrisco onder die SAOSO-naam bedryf word, wat in samewerking met PGS‐SA die basis vir vertroue in die gesertifiseerde produkte sal vorm.
Daar is drie verskillende prosesse waardeur daar bepaal word dat produkte werklik organies is en waardeur dus vertroue tussen produsent en verbruiker gevestig word.

1ste Party Sertifisering: Aangesig tot Aangesig en Self‐verklaring

Die produsent en verbruiker het 'n persoonlike verhouding wat tipies deur vriendskap en bevredigende ervarings opgebou word. Die verbruiker betaal die verkoopprys vir die organiese produkt op grond van hierdie persoonlike vertroue. Dit vat gewoonlik aansienlike tyd en moeite om hierdie vertroue op te bou.

"Self-verklaring" is waar die produsent organiese eise (moontlik ongegrond) vir sy produk maak. Dit word gewoonlik deur die woord "organies" op die etiket te sit. Die verbruiker plaas sy vertroue in die produk en dra die risiko om 'n produk te koop wat eties betwyfelbaar kan wees.

2de Party Sertifisering: Deelnemende Waarborgstelsels (PGS)

Die Internasionale Federasie van Organisese Landboubewegings (IFOAM) het deelnemende waarborgstelsels (PGS) as 'n erkende portuuroorsigstelsel bekendgestel.
PGS-sertifisering is geskik vir korttermyn kettingsmarkte (‘n kort proses van rou materiaal tot finale produk) soos byvoorbeeld waar produsente hul produkte aan boeremarkte sal lewer. Deur PGS bied produsente 'n formele waarborg dat hulle produkte volgens erkende organiese standaarde vervaardig word. In Suid-Afrika word ​​die term ‘PGS Endorsed’ gebruik.
PGS is gebaseer op sertifisering deur portuurgroepe. Dit bestaan uit 'n groep produsente, verbruikers en markoperateurs, moontlik bygestaan ​​deur 'n organiese landboukundige.
Die groep gebruik internasionaal erkende standaarde. In Suid-Afrika word die SAOSO - standaarde gebruik (SAOSO is 'n lid van die IFOAM - familie van standaarde en geniet dus internasionale erkenning).
Die groep ontwikkel ook 'n stel beoordelings - en rekordhouding dokumente. Lede van die groep (lede van dieselfde portuurgroep soos bv ander organiese produsente) besoek produsente op 'n rotasiebasis vir ‘n jaarlikse beoordeling. Die bevindings van die besoeke word gedokumenteer en aan die produsent oorgedra en sal ook enige moontlike "afwykings" insluit. Sodra die afwykings reggestel is kan die produsent die PGS-logo gebruik om sy produkte te verkoop.
PGS‐SA is die nasionale liggaam wat toesig hou oor individuele PGS in Suid-Afrika.

3de Party Sertifisering: AFRISCO

Derdeparty-sertifisering van voornemende organiese boere word deur 'n sertifiseringsliggaam gedoen. Hierdie opsie is geskik vir langtermyn kettingbemarking (byvoorbeeld wanneer verwerkte organiese produkte aan 'n kettingwinkelgroep gelewer word) of vir produsente vir wie PGS nie 'n opsie is nie.
Derdeparty-sertifisering is 'n formele proses wat die uitruil van dokumente en 'n terrein oudit insluit. ’n Sertifikaat word uitgereik met die suksesvolle voltooiing van hierdie proses.
So, hoe word jy formeel erken as 'n organiese boer?
Die PGS opsie:
Is daar 'n PGS wat in die area werk? Indien wel, word 'n lid.
Indien nie, is daar ander produsente en 'n boeremark naby, wat dalk belangstel om 'n PGS te vestig?
Die Afrisco-opsie:
As die PGS-opsie vir enige rede nie geskik is nie, of jy wil toegang tot binnelandse markte soos kleinhandelaars hê, moet jy aansoek doen by Afrisco.
Afrisco sal in samewerking met SAOSO en PGS‐SA die vordering van PGS-lidmaatskap na Afrisco-sertifisering verseker. Dit is byvoorbeeld vir produsente wat toegang tot binnelandse langtermyn kettingsmarkte wil verkry.
Groepe kleinboere kan 'n ‘produsente groep’ vorm en aansoek doen by Afrisco vir "groepsertifisering".
Produsente kan individueel aansoek doen vir Afrisco-sertifisering.

Translated by Nina Joubert