Hoe om Kersies te Groei

© Louise Brodie

Om soet kersies, Prunus avium, te groei het 'n paar uitdagings. Dit sluit nie net die hoë koste van die stigting van 'n boord, R250 000 - R300 000 / ha in 2018 in nie, maar ook onreëlmatige opbrengs en sensitiwiteit vir grondtoestande en die klimaat. Kersies verskaf ook alternatiewe oeste met 'n hoë opbrengs een jaar en 'n kleiner oes die volgende. Ander oeste wat ook alternatiewe gewasse oplewer is olywe, lemoene, appels en neute.

Om met Kersies te Boer

©Louise Brodie

Kersiebome kan net in sekere gebiede in Suid-Afrika verbou word. Hulle verkies koue winters en hou nie van warm somers, wind of ryp nie. Daarbenewens is kersiebome sensitief vir wortel Phytophthora en bolwurm. Voëls is lief vir kersies en kan tot 10% van die oes opeet. Om kersies onder nette te produseer is 'n oplossing vir hierdie probleem. Te veel sonlig in die winter kan sonbrand wat die voorkoms van bakteriële kanker verhoog veroorsaak. Om sonbrand te verhoed word daar voorgestel dat die kersies geplant word sodat hulle middag skaduwee het of ʼn 50% skadunet word aanbeveel. Kersies is vatbaar vir wortelvrot en verkies los goed gedreineerde grond met 'n pHbalans van 6. Volgens Nelius Kapp die grondkundige, kan kersies wat sagtevrugte is stikstof, kalium en fosfor verkies. Ook belangrik is boor, sink en mangaan. Grond en blaar ontledings sal die presiese vereistes aandui.

In die winter reënval gebiede van Suid-Afrika benodig kersie besproeiing vir beter groei en vrugte gehalte, maar het laer waterbehoeftes as byvoorbeeld appels, sowat 50% minder per hektaar. Drupbesproeiing met 'n toevoeging van voedingstowwe in die besproeiing word verkies bo mikro-besproeiing, wat die voorkoms van stam kankers kan bevorder.

Kersiebome kan gekoop word by kwekerye; kies bome wat ingeënt is op 'n goeie wortelstok soos winter-verdraagsame Gisela 5 of Malaheb. Toenemend word die Maxima verskeidenheid van wortelstokke gebruik. 

Soet kersies moet kruisbestuif word, so meng rasse by die aankoop van die plante. Plant 'n bestuiwings variëteit elke tweede tot vyfde boom. Suur kersies is selfbestuiwend.

In kommersiële kersie boerdery word nege tot 12 byekorwe / ha gebruik vir kersie bestuiwing.

Vrugte produksie begin na drie jaar met volle produksie wat slegs bereik word ná ses tot sewe jaar.

Om Kersies te Oes

©Louise Brodie

Kersies is 'n nie-klimakterium vrug wat beteken dat dit gepluk word as dit klaar ryp is en nie verder ryp word nadat dit geoes is nie. Kersies is 'n gewas met 'n baie kort oesseisoen. Die kersie-oes in Suid-Afrika begin van week 41 - die tweede week in Oktober en eindig rondom week 51 - aan die einde van Desember, maar sekere rasse en laat oeste in sommige gebiede kan die seisoen uitbrei tot in die middel van Januarie. Kersie pluk is arbeidsintensief en moet met die hand gepluk word met die stamme wat onbeskadig moet wees. 'n Boord word tot ses keer in 'n seisoen gepluk. Geoeste kersies moet so gou as moontlik tot 0,5°C afgekoel word. Dit word gewoonlik gedoen met behulp van 'n hidro-koeler.

Die optimum kommersiële bergingstoestande is 0,5°C met 'n relatiewe humiditeit van 95%. As gevolg van die uiters bederfbare aard van kersies met hulle sagte vlees, dun vel en vinnig-rypwording word die grootste deel van Suid-Afrikaanse kersies per lug vervoer. As dit per skip gestuur word, is dit noodsaaklik dat die vlees temperatuur nie meer as 0°C is nie. Die maksimum raklewe van kersies is 21 dae vanaf die pluk tot die finale verbruiker.

Translated by Wilma Koeppen