Hoe om Boetiekbier te Brou

© Chris Daly
Suid-Afrikaners hou van ‘n goeie bier en die gewildheid van boetiekbier is besig om toe te neem weens verskeie boetiekbierbrouerye wat aan die gang is, terwyl gewone mense by die huis hul eie bier brou. Bier kan gegroepeer word volgens styl wat gebaseer is op kenmerke soos geur, kleur, aroma, volheid en oorsprong.
Daar is meer as 100 style in bier: bleek tapbiere, wilde/suur biere, donker moutbiere en pilsenerbiere is maar net ‘n paar. Verskillende stylgroepe val gewoonlik binne die hoofkategorieë van tapbier (swaar met intense geur), en lagers (helder en vars).

Basiese Bestanddele van 'n Boetiekbier

©Chris Daly
Om bier te brou het jy water, moutgars, hop en gis nodig. Moutgars kry jy van gars wat in water geweek word totdat dit begin uitloop. Jy kan dit self doen of jy kan dit koop. Moutgars is verantwoordelik vir die produksie van die suikers wat nodig is om die bier soet te maak en met die gis te reageer sodat alkohol gevorm word.
Hop is die gedroogde blomme van die Humulus lupulus plant wat by bier gevoeg word tydens die brouproses om die soetheid van die moutgars te balanseer, bitterheid, aroma en geur te verleen, en as natuurlike preserveermiddel op te tree. Die effek wat hop op ‘n bier het hang af van wanneer dit tydens die brouproses bygevoeg word. As dit vroeër bygevoeg word sal die bier swaarder en bitterder wees en as die hop later bygevoeg word, is die resultaat ‘n ligter, frisser bier.
Gis is verantwoordelik vir die alkohol in die bier. As gis by die bier gevoeg word, breek dit die suiker af in alkohol en koolstofdioksied. Die gis dra ook by tot die finale geur van die bier en is verantwoordelik vir bier se vrugtige of speseryagtige note.

Stap Een van die Brouproses: Voorbereiding van die Water

©Chris Daly
Die eerste stap in die brou van bier is die voorbereiding van die water vir die ander bestanddele. Dit word gedoen deur gefilterde water te verhit tot 80° C in ‘n warmwatertenk. Nadat die water verhit is, word dit saam met die moutgars in die giskuip geprosesseer, maar die temperatuur van die water in die kuip moet eers verlaag word tot 65°C voordat die moutgars bygevoeg word.

Stap Twee van die Brouproses: Week van die Graan

©Chris Daly
Die moutgars word vir ‘n uur in die warm water in die giskuip geweek sodat die suikers in die graan vrygestel kan word. Vrystelling van die suikers is baie belangrik omdat dit later in die brouproses in alkohol omgeskakel sal word. Die suikers voeg geur, aroma, kleur en volheid by tot die bier, asook ‘n soet smaak wat aanleiding gee daartoe dat soeter biere dikwels beskryf word as “mouterig”.

Stap Drie van die Brouproses: Spoel van die Wort

©Chris Daly
Nadat die moutgars geweek het, kan dit gespoel word. Dit is wanneer die suiker onttrek en geskei word van die gars en word gewoonlik gedoen in ‘n sproeikuip, maar kan ook in die giskuip gedoen word. Sodra die graan afgespoel is en al die suikers daaruit onttrek is, word daarvan ontslae geraak. Wat oorbly is ‘n warm vloeistof of moutaftreksel (wort) wat uiteindelik bier sal word. Dit word oorgeplaas na ‘n volgende tenk waarin die brouproses voltooi sal word.

Stap Vier van die Brouproses: Kook van die Wort

©Chris Daly
Nadat die wort geskei is van die moutgraankorrels, moet dit gekook word om die geur te stabiliseer en enige mikrooganismes dood te maak. Dit duur ongeveer een uur. Dis ook gedurende hierdie proses wat die hop bygeveg word. Hoe vroeg of hoe laat dit gebeur beïnvloed die finale geur van die bier en die brouer gebruik dit om die verlangde geurprofiel te verkry. Die hop word tydens hierdie stap bygevoeg omdat hop gekook moet word om die geure daarvan vry te stel.

Stap Vyf van die Brouproses: Byvoeging van die Gis

©Chris Daly
Nadat die wort vir ongeveer een uur lank gekook het, word dit vinnig afgekoel sodat die gis bygevoeg kan word sonder dat dit deur die hoë temperatuur doodgemaak word. Sodra die bier tot 22°C afgekoel het, word die gis bygevoeg. Dit staan bekend as “pitching”. Die brouer moet baie versigtig en skoon te werk gaan tydens hierdie stap omdat moontlike besmetting deur mikroorganismes en bakterieë nie meer ongedaan gemaak kan word deur hoë temperature nie.

Stap Ses van die Brouproses: Fermentasie

©Chris Daly
Fermentasie is wanneer die bier regtig bier word. Terwyl die bier gelaat word om te fermenteer, breek die gis die suikers af om alkohol en koolstofdioksied vry te stel. Na ‘n week is die gistingsproses voltooi en die bier word na ‘n volgende tenk verskuif vir verheldering. Vir die volgende week word die bier gekondisioneer om die geur en aroma te stabiliseer en om die regte kleur te kry sodat ‘n meer volledige, afgeronde produk gelewer kan word.

Stap Sewe van die Brouproses: Karbonering van Bier

©Chris Daly
Teen hierdie tyd is die bier reg om gedrink te word. Al wat kortkom is die skuimkop en klein borreltjies wat jy in jou glas sien. Hiervoor is karbonering nodig. Karbonering kan gedoen word deur óf direk koolstofdioksied in die bier in te spuit, óf deur ‘n klein hoeveelheid suiker by die bottels te voeg wat met die oorblywende gis sal reageer om koolstodioksied vry te stel.

Finale Stap van die Brouproses: Om dit Gereed te Kry

©Chris Daly
Die finale stap in brouproses van bier is om die bier in vate en bottels te sit, en dit gereed te maak om vervoer, verkoop en geniet te word deur bierdrinkers oral.

Translated by Elna Van Rhyn