Grondtipes vir Wingerd

© Louise Brodie
Young vines planted in rocky soil.

Grondtipes in Suid-Afrika verskil baie van mekaar. Sommige is baie sanderig, ander het weer meer klei en dan is daar gronde met baie klip. Die gronde verskil nie net in voorkoms en kleur nie, maar ook na gelang van die hoeveelheid water en voedingstowwe wat dit kan vashou.

So kan sanderige en klipperige gronde baie minder kos en water vashou as kleigronde. Verder speel die hoeveelheid organiese materiaal wat in die grond is, ’n baie belangrike rol. Sekere druifkultivars se karaktereienskappe kan meer prominent te voorskyn kom indien dit op ’n spesifieke grond verbou word.

’n Kombinasie van klimaat, terrein, kennis van gesteentes en tipe grond dra by tot die lewering van hoë kwaliteit wyne, maar die omgewingstoestande en grondtipe beïnvloed egter die styl van die wyne. Dit is daarom uiters belangrik om te weet op watter tipe grond geboer word, om sodoende die beste eienskappe van die grond te kan bestuur en om wyn van hoogstaande gehalte te maak.

Om self die grondtipe te bepaal, is baie ingewikkeld en ’n gespesialiseerde taak. Om jou in staat te stel om die inligting te bekom, moet profielgate gegrawe word. Die gate moet eweredig verspreid oor die betrokke stuk grond gegrawe word en ’n volledige grondkundige studie moet dan deur ’n kenner gedoen word.

Sandgrond

Grond met ’n klei-inhoud van minder as 6%, bied min weerstand teen wortelgroei, maar dié grondtipe se belangrikste nadeel is sy swak houvermoë van water en voedingstowwe. Derhalwe moet sandgrond meer gereeld water en bemestingstowwe ontvang as ander grondtipes.

’n Groot gedeelte besproeiingswater verdamp vanaf dié tipe oppervlakte. Met die relatiewe groot sandkorrels kan water nie maklik vasgehou word nie en dreineer dit vinnig deur die grond. Waterbewaring by sandgrond kan bewerkstellig word deur middel van ’n dekgewas of deklaag - ’n dik laag plantmateriaal op die oppervlakte - om verdamping te verminder.

Groeiende onkruid onttrek baie van die beskikbare water en voedingstowwe in die grond, dus is die plant van dekgewas en beheer van onkruide ideale bewerkingspraktyke by sandgrond. Die byvoeging van organiese materiaal in die vorm van kompos, verhoog die humus in die grond en dus die waterhouvermoë.

Die beste besproeiing vir sandgrond is deur mikro of drupstelsels met ’n kort besproeiingsiklus. Alhoewel dit fyn en los voorkom, kan sandgrond baie verdig en kompakteer deur middel van vloedbesproeiing asook wielverkeer.

Gereelde vlak bewerking van sandgrond met ’n skottel-eg of kapploeg, kan die struktuur vernietig en die fyn sandkorrels laat afbeweeg om op die ploegbank te lê om die laag te verdig.

Kleigrond

Hierdie tipe gronde word langs riviere aangetref, waar dit meestal in lae deur water of oorstromings agtergelaat is. Kleigrond beskik oor ’n goeie houvermoë van water en voedingstowwe en wingerd op hierdie tipe gronde is soms geneig om baie geil te groei. Die gronddeeltjies is baie fyn en groot verskille kom soms in die verskillende lae voor.

By slikgrond kry ons soms voorbeelde wat lyk soos ’n toebroodjie waar die sliklae geskei word deur ’n growwe sandlaag. Die groot verskil in tekstuur verhoed goeie wortelindringing, asook waterverspreiding; water beweeg deur die slikgrond en deur die sandlaag tot in die ondergrond, maar wortels beweeg egter nie deur die laag growwe sand nie.

Grondbewerking op slikgrond moet deeglik beplan word om kompaksie te verhoed: slikgrond wat te nat is, kan kompakteer of vastrap weens trekkerbeweging en sodoende kan grondverdigting veroorsaak word. In kleigrond sal organiese materiaal beter dreinering en deurlugting bevorder.

Die waterinhoud van kleigronde is baie belangrik, wanneer daar beplan word om die grond meganies te bewerk. Indien die grond te nat is, sal die wiele van die trekker wielspoorverdigting bevorder en kan ’n smeeraksie verdere verdigting van die ondergrond veroorsaak. As die grond te droog is, kan groot kluite breek. Probleem-slikgronde moet vooraf deeglik vermeng word met ’n dolploeg.

Klipperige Grond

Hierdie grondtipe kom baie algemeen voor op die sogenaamde buitegronde. Dit word ook dorbank of koffieklip grond genoem. Op hierdie grondtipe is goeie grondvoorbereiding uiters noodsaaklik ten einde gesegmenteerde, ondeurdringbare lae wat op wisselende dieptes voorkom, op te hef.

Hierdie lae kan wortelindringing beperk. Grondvoorbereiding op klipgrond is normaalweg duur aangesien groot en duur kruiptrekkers gebruik moet word om soms eers die bo-laag weg te stoot.

Dan word die harde ‘dorbank’ met ’n toon of skeurploeg gebreek. Daar moet egter verhoed word dat die grond wat voorberei is, weer gekompakteer word. Klipgrond wat goed voorberei is, het nou ’n beter houvermoë vir voedingstowwe en water.