Groenbemesting en Grondkwaliteit

© Akkerwijzer

Groen bemesting is die aanplant van ‘n gewas met die uitsluitlike doel om die grond te verbeter.
Groen bemesting (dekgewasse) verbeter grondkwaliteit op die volgende maniere:
Vermeerder organiese materiaal en bou humus in die grond.
Verskaf voedingstowwe vir mikrobes.
Hersirkuleer voedingstowwe.
Dekgewasse onttrek voedingstowwe van diep in die ondergrond (‘subsoil’) en deponeer dit in die bo-grond.
Peulgewasse sirkuleer oor fosfate en swael en verhoog oplosbare stikstof (N).
Ondergrond en kleilae word oopgebreek wat dus water - en lugindringing verbeter.
Beperk grond-erosie.
Groen bemesting is presies wat die naam sê: die produsent koop saad aan om te plant, vir plante wat nooit geoes gaan word nie, maar wat help om die grond se voedinggehalte te verbeter. Voorbeelde sluit in hawer, kekerertjies en lusern. Let op dat as peulgewasse gebruik word as dekgewas vir groenbemesting moet die saad vooraf geënt word met die regte stam bakterieë ten einde stikstof-fiksering te verseker.
Groen bemesting kan tussen rye van verskillende gewasse aangeplant word en dan in die grond ingewerk word en hoef nie noodwendig op ‘n oop land plaas te vind nie. Dit sal dan dien as ‘n onkruidbeheer meganisme en ‘n grondbedekker. As dit nie ingewerk kan word, kan die groen plantdele geoes word en in die komposhoop gebruik word.
Die grootste nadeel van groen bemesting op ‘n oop land is dat die land vir een seisoen nie gebruik kan word nie, maar die voordeel is dat dit bydra tot die grond se gehalte en verryking. Dit word in die plek van kunsmis gebruik.
Groenbemesting is op sy beste wanneer dit begin blom en bied die meeste voordeel vir grondvrugbaarheid. Dit word nou fyngekap en ingeploeg. As dit vooraf met ‘n mikrobiese inokulant bespuit kan word, sal dit die mikrobe-telling in die grond verhoog en die humus-bou eienskappe van die grond verbeter.
Humus word gevorm wanneer organiese materiaal afgebreek word deur bakterieë en mikro-organismes. Die resultaat is ‘n donker krummelrige stof wat lyk en ruik na ‘grond’. Dit bevat die voedingstowwe in ‘n vorm wat die plantwortels kan opneem. Humus tree op as ‘n spons en behou water. Die korrelrige tekstuur help ook met die opbreek van swaar kleigrond en verhoog die waterhouvermoë en leemtekstuur van sandgrond. Dit verminder ook afloopwater en erosie.

By Marinda Louw