Grenache Blanc

© Glenneis Kriel

Naam

Grenache Blanc

Beskrywing

Grenache Blanc is ’n wit wyndruif wat oorspronklik van Noord-Spanje afkom en na Frankryk versprei is. Dit is een van die vier mees aangeplante variëteite in Frankryk. Grenache Blanc is welbekend vir die gebruik in die Chateauneuf-du-Pape versnitwyn. Dit is ’n wit mutasie van Grenache Noir en volronde, hoë alkohol witwyne word daarvan geproduseer.

Oorsprong

Spanje

Ander Name

Grenache Blanc het meer as 20 sinonieme, afhangende van waar dit groei. Dit is ook bekend as Alicante Blanca en Garnatxa Blanca (in Katalonië).

Produksie in Suid Afrika

Die eerste Grenache Blanc in Suid Afrika is in die vroeë 1900’s op die plaas Delheim naby Stellenbosch aangeplant. Dit is eers in 1979 kommersieel bekend gestel as ’n ‘interessante nuweling’.

Produksie Streke

Aanplantings van Grenache Blanc het met ongeveer 20 hektaar toegeneem vanaf 2016 toe daar 110ha totale aanplantings opgeteken is. Tien hektaar van hierdie nuwe aanplantings is in die Kaapse Suidkus area. Grenache Blanc word in al die wynstreke behalwe die Noord-Kaap gevind. Bekende produsente van 100% Grenache Blanc-wyne sluit KWV, Paardeberg en Leeuwenkuil in.

Groei

Grenache Blanc is ’n sterk groeier en het ’n hoë opbrengs van 15 – 20 ton per hektaar. Oorproduksie kan tot ’n lae suurvlak in die wyn lei en uitdunning van die trosse word aanbeveel. Alhoewel dit droogtebestand is, kan droogte en hitte ook bydra tot ’n lae suurvlak. Grenache Blanc groei regop, is bestand teen wind en doen goed in sandgrond of klipperige areas. Dit kan as ’n bosstok groei of opgelei word.

Oestyd

Grenache Blanc vereis ’n lang, warm ryp-word periode en word in die middel van die seisoen geoes.

Blare

©Glenneis Kriel
Die blinkgroen, amper niervormige Grenache Blanc blare is glad met reglynige rande.

Druiwekorrels

Die Grenache Blanc trosse is groot en amper rond en die korrels geelgroen en mediumgroot. Die doppe is ferm en die vleis sag en sappig.

Siektes en Plae

Grenache Blanc is hoogs vatbaar vir bakteriële siektes, botrytisvrot, streepvlek en skimmel, maar word selde geaffekteer deur oïdium (witroes), blaarspringers en myte. Die wingerdstokke is sensitief vir botritis en as dit met ’n virus besmet is ontwikkel die korrels nie heeltemal nie.

Gebruik

Grenache Blanc is ’n gewilde druif vir versnitwyne en word in gefortifiseerde wyn in Spanje en Frankryk gebruik. As dit droog gegis word bring dit ’n goue, volronde witwyn met ’n hoë alkoholinhoud van 13 – 15% voort. Grenache Blanch is geneig tot oksidasie en het ’n beperkte veroudering potensiaal as ’n enkel variëteitswyn.

Deur dit in ’n versnitwyn te gebruik verleng dit die raklewe en dien as ’n ‘versagter’. Grenache Blanch is een van die variëteite wat gebruik word om Rivesaltes Vin Doux Naturel te produseer, ’n natuurlike soetwyn versny met brandewyn sodat dit tot 100 jaar kan hou.

Smaak

Twee gereelde beskrywings van Grenache Blanc wyn se smaak is ‘ryk’ en ‘groen vrugte’. Ander ondertone is komyn of sitrus en as dit in ’n eikevat gehou is word gebakte appels of brioche opgemerk.

Grenache Blanch is in die Verenigde State van Amerika, net soos Chardonnay, gewild vir die hoë alkoholinhoud en ryk smaak as dit in ’n eikehoutvat verouder word.

Translated by Ananda Schoeman