Draakvrugte Produksie

© Florentino Floro

Draakvrugte, ook genoem dragon fruit, is die vrugte van ‘n rankende kaktus wat in die nag blom. Afkomstig uit die tropiese en subtropiese streke van die wêreld, raak aanplantings van die plant al gewilder in Suid-Afrika waar dit vining besig is om ‘n groeiende uitvoerbedryf te word.

Globale Draakvrugteproduksie

Draakvrugte word hoofsaaklik in die lande van die Noordelike halfronde geproduseer, wat beteken dat draakvrugte uit Suid-Afrika beskikbaar is wanneer daar ‘n skaarste is in Europese en VS markte.

Draakvrugte word kommersieel geproduseer in Viëtnam, Maleisië, Thailand, Sri Lanka, China en Israel, maar word ook geproduseer in Sentraal-Amerika (Mexiko, Columbië, Ekwador en Gautemala). Viëtnam produseer hoofsaaklik (95%) pienk variëteite, terwyl Ekwador en Colombië fokus op die wit vrugte met die geel skille.

Viëtnam, gevolg deur Thailand en Israel, is die grootste verskaffers van draakvrugte en produseer meer as 600 000 ton per jaar.

Die grootste hoeveelheid van alle draakvrugte geproduseer word in Asië verbruik, veral deur die Chinese, wat glo in die goeie geluk wat gebring word deur die naam van die vrug (dragon fruit), die vorm daarvan en die kleure. Die meeste draakvrugte word gebruik in waardetoegevoegde produkte.

Suid-Afrikaanse Draakvrugte Produksieareas

Suid-Afrika se warm klimaat is ideaal vir Draakvrugte wat temperature van 21°C – 29°C verkies, maar genoegsame besproeiing of reënval van tussen 650 mm tot 1 200 mm is noodsaaklik. Draakvrugte is sensitief vir intense sonlig en ryp. Dit aard goed in die klimaat waar avokado’s, piesangs en makadamiadneute gekweek word en sal goed inpas in die produksiesisteme van hierdie produkte. Dieselfde pakhuis-logistieke kan gebruik word en oestye oorvleuel nie.

Draakvrugte word gekweek in die Natalse Middellande en kusstreke van KwaZulu Natal, die Laeveld area vanaf Nelspruit tot Tzaneen, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap. Die grootste nuwe draakvrugte-aanplantings in Suid-Afrika is by Dendron en Louis Trichardt in die Limpopo Provinsie.

Volgens Max van Heerden van Dragon Fruit South Africa (DFSA), is draakvrugteproduksie in Suid-Afrika nog klein met ongeveer 100 ton wat per jaar geproduseer word (2019). Die meeste hiervan word deur middel van lugvervoer uitgevoer, met slegs ‘n paar kratte wat beskikbaar is vir plaaslike verbruik. Daar word egter verwag dat die kommersiële produksie van draakvrugte geweldig sal groei tussen 2019 en 2021 soos ekstensiewe nuwe aanplantings in produksie kom.

Suid-Afrika voer draakvrugte hoofsaaklik na Europa uit, maar sal ook na die Verre Ooste en die VSA uitbrei sodra produksie toeneem.

Draakvrugte Seisoene

In Suid-Afrika word draakvrugte hoofsaaklik vanaf November tot Maart geoes. Solank plante nog jonk is, dra hulle net vanaf Januarie tot Maart, maar hoe ouer hulle word, hoe langer word die seisoen.

Draakvrugte uit die Wes-Kaap en noordelike Mpumalanga Provinsies kan selfs dra tot in Mei en Junie, maar die binnelandse Draakvrugte-seisoen eindig in April.

Translated by Elna Van Rhyn