Die Voer van Siek Bokke

©Marinda Louw
Bokke is nie diere wat in hokke of kampies aangehou moet word nie. Hulle hou daarvan om vry te loop en wei sodat hulle die beste plante kan uitsnuffel om te vreet en daarom lei inperking dikwels tot gesondheidsprobleme, veral by vleisbokke. Bokke is aanpasbaar en gehard, maar stres ook maklik en sal sommer boedel oorgee as hulle siek is. Hulle is by uitstek tropdiere en haat dit om alleen te wees; dus moet ‘n bok wat op sy eie staan onmiddellik ondersoek word om uit te vind wat verkeerd is.
As ‘n bok nie sy kop kan optel nie, kan hy nie soliede kos verteer nie en moet daarom nie gedwing word om melk, graan of voer in te neem nie. Kos sal onverteer bly en dit kan herstel bemoeilik of verhoed. As ‘n bok nie in staat is om te staan nie, laat hom orent sit teen ‘n muur en rol hom van kant tot kant om bloedsomloop te verseker en ook dat medikasie deur sy liggaam versprei.
Vloeistof is noodsaaklik. Gee elektroliete in vloeibare vorm. Ten spyte daarvan dat die korrekte medikasie toegedien is, sal die bok vrek as hy dehidreer. As die bok lê, moet water in ‘n vlak houer soos ‘n waterbak vir honde, voorsien word.
Siek diere het meer water, energie en proteïene nodig as gesonde diere, maar hulle het ‘n swakker aptyt. Moedig hulle aan om te vreet met kleiner hoeveelhede, natgemaakte voer of deur melasse of sout by te voeg om die voer smaakliker te maak. Vars groenvoer en vars blare is goeie bronne van vitamienes. ‘n Siek dier moet klein bietjies konsentraat voer 5-6 per dag ontvang en apart van ander diere gevoer word sodat hy ongestoord kan vreet en rus.
Siek diere vreet dikwels stadiger en het daarom meer tyd nodig om te vreet as gesonde diere. ‘n Probleem met siek volwasse bokke is dat die dermkanaalflora ongebalanseerd kan raak. Sommige boere gee ongegeurde joghurt gemeng met gerolde hawer of versoet met heuning om die florablans weer reg te kry.

Die Voer van Siek Boklammers

©Chris Daly
Vir pasgebore lammers is die onmiddellike innneem van kolostrum (die eerste melk van sy moeder) noodsaaklik vir oorlewing. As hulle dit nie inkry nie, dehidreer hulle gou en vrek. Om ‘n boklam te red, moet ‘n boer vloeistof in die vorm van kolostrum van die moeder, of ‘n kolstrumvervanger aan die lam gee, nie ‘n kolostrumaanvulling nie.
Dehidrasie/ontwatering is ‘n groot probleem wanneer boklammers diarree het. Dus moet orale dehidrasie toegepas word. Staak alle melk en melkvervangers en vervang dit deur dieselfde hoeveelheid vloeibare elektroliete. In ‘n noodgeval kan ‘n tuisgemaakte elektrolietmengsel gemaak word deur ‘n liter water te kook waarby 2 eetlepels stroop, ‘n halwe teelepel sout en ‘n kwart teelepel koeksoda gevoeg word.
Let daarop dat inligting slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes verskaf word en nie as mediese advies beskou moet word nie. Die inligting is nie veronderstel om mediese advies of behandeling deur ‘n veearts te vervang nie.

Translated by Elna Van Rhyn