Die Mapungubwe-Versameling

Net ’n Deel van die Rykdom

©Roger de la Harpe
Die Universiteit van Pretoria besit die meerderheid van die artefakte wat by Mapungubwe en K2 gevind is en 'n kleiner versameling is in die besit van Wits Universiteit. Ongelukkig verteenwoordig hierdie onvervangbare argief waarskynlik slegs 'n breukdeel van die oorspronklike rykdom van Mapungubwe. Aangesien die heuwel so afgeleë is, was dit moeilik om te bewaak en oor die jare is baie voorwerpe geplunder. Gerugte van onwettige goud in die hande van private versamelaars duik gereeld op. 'n Verskeidenheid voorwerpe van die Universiteit van Pretoria-versameling is nou permanent by die Mapungubwe-museum, wat oop is vir die publiek.
Die vernaamste attraksie van die Mapungubwe-museum is die bekende goue renoster, goue septer en goue bak. Hierdie drie-eenheid is die kern van wat Sian Tiley na verwys as “Suid-Afrika se Kroonjuwele”. Maar die versameling bevat veel meer as dit. Aangesien goud 'n sagte, smeebare en slypbare metaal is, kon die mense van Mapungubwe dit verhit en vorm in 'n verskeidenheid delikate vorms. Goudvelle is gegraveer om pragtige versierings te maak. Dun velle goudfoelie is liggies om houtbeelde gehamer om wonderlike voorwerpe te maak wat in die son glinster. Krale is geskep deur 'n klein gaatjie in ’n druppel goud te maak. Gehamerde goue draad is in armbande gedraai. Goud is in armbande en ander geometriese vorms gevorm om wenslike juweliersware te maak. Al hierdie voorwerpe het 'n plaaslike oorsprong en daar is geen bewyse dat enige van die materiale gegiet is nie.

Behep met Krale

©Roger de la Harpe
As bewys van hierdie inheemse Afrika-goudbedryf, bevat die versameling twee onvoltooide goue renosters, 'n aantal goue torso's, duisende klein goue spykers, die oorblyfsels van 'n goue hoofstut en verskeie ander goue versierings. Duisende goue krale het in die grafte rondgelê, maar hulle sou oorspronklik op beeshare of fyn plantvesel geryg gewees het om pragtige, veelgesnoerde halssnoere en armbande te maak. Om die besoekers 'n idee te gee van hoe pragtig hierdie halssnoere moes gelyk het, het die museum 'n paar van die krale met moeite hersnoer.
Buiten goud, was die Mapungubwe-mense behep met krale! Die versameling bevat duisende glaskrale van regoor die wêreld: groot saamgestelde 'tuinrol' krale van K2, klipkrale gemaak van kalsiet en kwarts, krale gemaak van volstruiseiers, krale gemaak van seeskulpe en krale gemaak van die skulp van die landslakke. Daar word geglo dat krale 'n teken van status was, en verskillende betekenisse is aan elke kleur gegee. Wit word beskou as suiwerheid, swart verteenwoordig die voorvaders, groen is vir vrugbaarheid en so aan. Daar is ook 'n paar kobaltblou krale wat regoor die streek hoog gewaardeer is. So laat as 1900 het 'n plaaswerker gesê dat een van hierdie krale £5 of een koei werd was.

Goud en Ander Metale

©Roger de la Harpe
Ivoor was die ander groot handelsware. Die meeste ivoor armbande, armbande en ornamente in die versameling is by K2 gevind, en nooit in groot getalle nie. Die koninklikes het oënskynlik nie ivoor vir hulself gehad nie en die meeste daarvan is na die kus gestuur.
Alhoewel goud slegs op Mapungubwe Heuwel gevind is, het die omringende terreine groot hoeveelhede minder glansryke metaalartefakte opgelewer. Daar was die tradisionele ysterskoffelpikke, pylkoppe, spieskoppe, armbande, ake, spykers, beitels en lemme wat algemeen is vir baie Laat Ystertydperk-gemeenskappe. Koper gietblokke met penne, bekend onder die Venda as musuku, is ook gevind en daar word bespiegel dat dit geestelike en kommersiële waarde gehad het. Verskeie brons items is ingesamel, maar dit het vermoedelik 'n eksotiese oorsprong. Daar was waarskynlik heelwat meer voorwerpe agtergelaat toe Mapungubwe verlaat is, maar yster en koper neig om baie vinniger as goud te af te breek.

Beeldskoon en Funksioneel

©Roger de la Harpe
Ander voorwerpe in die versameling sluit in: delikate beennaalde vir naaldwerk; beenhaarknippies; klei figure van mense en diere (meestal by K2 gevind); fragmente van Chinese Celadon-ware; keramiekbakke, lepels, fluitjies, kruike, potte, bekers en spilwiele. Die keramiek van K2 en Mapungubwe is gewoonlik gebruik om te kook, drink of te bêre. Ten spyte van hul funksionele doel, was hierdie voorwerpe dikwels pragtig gemaak in aantreklike vorms met ingewikkelde ontwerpe wat in die oppervlak geëts is. Hulle sal nie vreemd lyk in ’n luukse Afro-sjiek huiswarewinkel nie.

Kroonjuwele Terugbesorg

©Roger de la Harpe
In die verlede was daar geen permanente uitstalling van die Mapungubwe-skatte nie. Oor die jare het die Universiteit van Pretoria meer as 'n dosyn goed-bemarkte openbare uitstallings gebied wat oor die land gereis het, maar die publiek het nie gratistoegang tot die versameling gehad nie. Die aanvraag na 'n museum het ná 1994 duidelik geword. Publieke belangstelling in die versameling het eksponensieel met die nuwe bedeling gegroei en ons het 'n begeerte gehad om ons geskiedenis van die houvas van apartheid terug te eis. Nuwe simbole wat 'n trotse Afrika-verlede verteenwoordig is gesoek. Die mense wou die goue renoster sien!
Terselfdertyd is verskeie van die belangrikste goue voorwerpe (insluitend die renosters) na die Britse Museum gestuur vir restourasie. Hierdie proses was duur en tydrowend, maar die resultate was skouspelagtig. Dit sou ’n jammerte wees om dit net by uitstallings te kan besigtig. Gelukkig is die die Mapungubwe-museum, na deeglike voorbereidings, in 2000 geopen. Dit is geleë in die Ou Kunste-gebou op die Universiteit van Pretoria-hoofkampus in Pretoria. Die “Kroonjuwele” is aan die mense van Suid-Afrika terugbesorg.

Translated by Nina Joubert