Die Grootmaak van Kalwers en Verse

© Rykie Visser Agrinet

‘n Nuwe laktasieperiode begin wanneer koeie kalf of geboorte gee. ‘n Vers- of ‘n bulkalf word hieruit gebore. Verskalwers word grootgemaak om koeie te vervang wat oor tyd uitgeskot word. Die grootmaak van ‘n vers begin by geboorte en eindig by haar eerste kalwing.

Die Belangrikheid van Kolostrum

©Eric Miller
Die pasgebore kalf moet soos ‘n baba behandel word, veral gedurende die eerste twee maande van haar lewe. Binne die eerste ses uur na geboorte moet die pasgebore kalf gehelp word om melk (kolostrum) van die moeder te drink of kolostrum moet aan haar gevoer word met ‘n kunsspeen.

Kolostrum is die eerste melk wat deur die koei geproduseer word. Dit bevat teenliggaampies teen siektes wat die koei onder lede gehad het gedurende haar dragtigheidsperiode. Die kolostrum verskaf ‘n passiewe immuniteit aan kalwers gedurende die eerste paar weke van hul lewens.
Kolostrum het ‘n hoër vastestof-inhoud as standaard melk, byvoorbeeld 24% teenoor 13%. Dit is hoofsaaklik weens hoër vet- en proteïenvlakke. Die hoeveelheid vastestowwe verminder na 24 uur.
Hoewel geen direkte absorbsie van teenliggaampies 6 - 8 ure na geboorte meer plaasvind nie, verskaf kolostrum steeds beskerming binne die spysverteringskanaal en moet aan kalwers gevoer word solank asl dit geproduseer word (eerste 5 dae).

Bestuur en die Voer van Kalwers

©Rykie Visser Agrinet
Vier-en-twintig uur na geboorte kan die kalf na ‘n kalfhok (1.0 x 1.8 m groot) verskuif word. Die mure van die kalwerhokke moet 1.2 m hoog wees aan drie kante met die agterste muur en dak ten minste 1.5 m hoog. Droë beddegoed soos strooi of houtsaagsels moet op die vloer voorsien word.
Vervang nat en vuil beddegoed een maal per dag met droë strooi. Hou die kalwers in die kalwerhokke tot 3-maande ouderdom waarna hulle in groepe (volgens ouderdom) in oop kampe of op weiding aangehou kan word.
Kalwers kan melk (vol beesmelk of ‘n melkvervanger) gevoer word na afloop van die kolostrumvoedingsperiode. Voorsien 2 tot 3 liter melk aan kalwers elke dag in die oggend en namiddag. Direk nadat koeie gemelk is kan die warm melk aan kalwers gevoer word.
‘n Kunsspeen kan gebruik word terwyl kalwers ook geleer kan word om uit ‘n emmer te drink. Was en steriliseer kunsspene en emmers elke keer nadat kalwers gedrink het. Dié toerusting moet droog gehou word om die opbou van siekteveroorsakende organismes en die verspreiding van siektes tussen kalwers te voorkom.

Speen van Kalwers

Kalwers moet so vinnig as moontlik van melk gespeen word. Begin deur ‘n kalfaanvangsmeel met 18% ruproteïene (RP) vanaf sewe dae ouderdom te voer. Aan die begin kan sowat 150 g (‘n groot koffiebeker) kalfaanvangsmeel per dag gevoer word. Die meel moet een maal per dag in droë, skoon voerbak geplaas word. Leer die kalf om uit die voerbak te vreet deur van die droë meel aan sy neus te smeer. Deur die meel af te lek sal die kalf die voer begin herken.
Speen kalwers heeltemal van melk (hou op melk te voer) op twee tot drie maande. Gee dieselfde hoeveel melk elke dag. Soos kalwers ouer word vreet hulle meer meel. Voorsien vars meel elke dag. Verwyder eers die vorige dag se meel omdat dit vinnig muf raak as gevolg van speeksel wat die kalf afskei. Gee meer meel wanneer die daaglikse hoeveelheid opgevreet is. Kalwers kan gespeen word wanneer sowat 1 kg per dag van die kalfaanvangsmeel gevreet word.
Hooi kan vanaf 2-maande ouderdom aan kalwers gevoer word teen sowat 0.5 kg per dag. Ongeveer 1 liter jogurthouer vol of twee handevol gemaalde hooi behoort voldoende te wees. Voer ‘n kalfgroeimeel (met 16% RP) vanaf drie maande ouderdom. ‘n Kalfgroeimeel het ‘n laer RP-inhoud (sowat 15 - 16%) in vergelyking met ‘n kalfaanvangsmeel teen 18% RP. Verhoog die hoeveelheid groeimeel weekliks. Die daaglikse voerinname van verse neem toe soos hulle ouer word.
Op 24-maande ouderdom is die totale voer-inname van verse sowat 18 kg per dag. Afhangende van die stelsel kan dit net weiding wees of weiding plus aanvullende hooi en kragvoer. Dit kan ook 'n gemengde rantsoen (TMR) wees.

Verse op Weiding

Verse kan vanaf 6-maande ouderdom op weiding gaan. Hulle kan sowat 1 kg kragvoer per dag gevoer word tot op 12 maande ouderdom waarna die weiding, kikoejoe of raaigras, voldoende behoort te wees. 'n Groeimeel en suiwelmeel kan ook as 'n kragvoer vir verse gebruik word.
Daar moet egter ‘n voldoende hoeveelheid weiding beskikbaar wees. Indien dit nie die geval is nie, moet dit aangevul word met goeie kwaliteit hooi of kuilvoer.
Wanneer geen weiding beskikbaar is nie, moet totale gemengde diëte gevoer word. Die hoeveelheid en kwaliteit van die diëte sal afhang van die ouderdom van verse. Die hoeveelheid wat gevoer word raak meer soos verse ouer word terwyl die kwaliteit afneem, naamlik laer RP- en energie-vlakke.

Die Groei van Verse

Verse moet gereeld geweeg word om die voedingsprogram te monitor. Verse groei stadiger wanneer lae kwaliteit voer voorsien word. Insemineer verse wanneer hulle 300 tot 330 kg weeg of wanneer hulle 12 tot 14 maande oud is. Dit behoort te verseker dat die eerste kalwing op 24 tot 25 maande ouderdom sal plaasvind.

By Dr Carel Muller