Die “Boer Pimpernel” van Vredefort

© David Fleminger

Altyd Onstuimig

Die verhouding tussen die Boere en die Britte was altyd onstuimig. Ná die Groot Trek het die Britte teësinnig die onafhanklikheid van die Boererepublieke erken, maar maar hulle was baie gou spyt oor hierdie besluit toe dit duidelik geword het dat die Suid-Afrikaanse binneland minerale rykdomme kan bevat. Diamante is in die 1860’s in Kimberley ontdek en die eerste Anglo-Boereoorlog het in 1880 uitgebreek met die eerste skote wat by Potchefstroom afgevuur is. Die oorlog het ’n jaar later geëindig met ’n oorwinning vir die Boere.

In die laaste dekade van die 1800’s het dinge egter weer onstuimig begin raak. Met die ontdekking van goud aan die Witwatersrand het die Britte begin aanvoer dat die twee onafhanklike Boererepublieke (die Suid-Afrikaanse Republiek en die Oranje-Vrystaat) weer met die federale Suid-Afrikaanse staat herenig word. Die Boere wou niks hiervan hoor nie en het besluit om vir hulle onafhanklikheid te veg. Hierdie onversetlikheid van albei partye het ’n oorlog onvermydelik gemaak.

Die Tweede Anglo-Boereoorlog

Die Tweede Anglo-Boereoorlog ook bekend as die Suid-Afrikaanse Oorlog was ’n lang, uitgerekte affêre. Die Boere het nie dieselfde toerusting as die Britte gehad nie, maar hulle het hierdie nadeel tot hulle voordeel gebruik deur kleiner kommando’s te vorm. Hierdie hoogs mobiele kommando’s het die Britte onverwags aangeval en dan weer in die bosse verdwyn. Die Britte het dikwels agternagejaag, maar hulle kon nie met die ontwykende Boeremag tred hou nie. Die hele situasie het vinnig in ’n eindelose reeks skermutselings en teenaanvalle ontaard - die wêreld se eerste guerrilla-oorlogvoering.

Uiteindelik het die Britte besluit om vuil te speel en ’n meedoënlose verskroeide aardebeleid begin om die vyand uit te honger. Plase is afgebrand en die lande is vernietig. Die vrouens en kinders is in hegtenis geneem en na konsentrasiekampe vervoer waar hongersnood en siekte aan die orde van die dag was.

Meester van die Koepel

Die Vredefort-omgewing is hard getref. Teen 1901 het Lord Kitchener trots gerapporteer dat daar geen voorrade in die Parys-Reitzburg-streek agtergelaat is nie en verskeie konsentrasiekampe is in die omgewing gevestig (insluitend een wat moontlik vir swart gevangenes gebruik is). Uiteindelik is die Boere na die onderhandelingstafel gedwing en ’n nuwe bedeling is vir Suid-Afrika opgestel. Die konflik het vanaf 1899 tot 1902 geduur.

Vir die doeleindes van ons verhaal was die bergland van die Vredefortkoepel die perfekte omgewing vir die Boere se kat en muis speletjies met die Britte. Die verwarrende reeks parallellopende valleie en rante het oorvloedige wegkruipplekke vir die kommando’s aangebied en die strategies belangrike Vaalrivier het regdeur die streek geloop.

Die meester van die Koepel was ’n merkwaardige, veerkragtige Boere-kommandant genaamd Christiaan de Wet. Hy was ’n konstante doring in die Britte se vlees, maar het keer op keer daarin geslaag weg te kom. Hy was so ’n gladde karakter dat hy die bynaam 'The Boer Pimpernel' gekry het.

’n Gewilde Leier

Christiaan de Wet was ’n streng, maar gewilde leier. Hy het vir die eerste keer bekendheid verwerf met die Slag van Nicholson’s Nek, waar ’n klein groepie boere onder sy bevel die Britse troepe verslaan en 800 gevangenes geneem het. Hy is later bevorder tot hoof van die Oranje-Vrystaat se kommando’s en het sy werk met erns aangepak. Eerstens het hy die Britte verwar deur hulle van agter af aan te val. Daarna het hy die spoorwegbrug oor die Vaalrivier opgeblaas en ’n Britse depot aangeval en beslag gelê op voorrade ter waarde van ’n halfmiljoen pond. Die Britte het briesend kwaad geword.

In ’n massiewe teenaanval het die Britte probeer om die Boereregering, wat destyds in Bethlehem gestasioneer was, gevange te neem. De Wet en sy kommando’s het hulle te hulp gesnel, maar hulle kon nie die Britte keer nie. Hulle het egter daarin geslaag om President Steyn en verskeie belangrike figure van Bethlehem af weg te kry voordat dit ingeval is en het hulle dan ook na Potchefstroom vergesel.

’n Geleentheid

Lord Kitchener het nou ’n geleentheid gesien om die oorlog eens en vir altyd te eindig en het 50 000 troepe gestuur om Christiaan de Wet te vind. Dit was die begin van die eerste de Wet soektog, daar sou uiteindelik drie wees. Agtervolg deur die Britte, het De Wet en sy kommando na Vredefort gevlug en die Britse mag by elke geleentheid gefnuik. Teen hierdie tyd het die Britte hom in die ooste en die suide omring en enige toegang terug na die Vrystaat afgesluit. De Wet sou die Vaalrivier moes oorsteek. Die vraag was net waar.

Lord Methuen, in beheer van die Britse magte in Transvaal, is beveel om al die rivierkruisings tussen Scandinavia Drift en Lindequesdrift te beman, maar daar was minstens 12 ander kruisings tussen hierdie twee punte en die Britse magte was reeds te min. De Wet het sy kans waargeneem en op 6 Augustus 1900 sy mense by Schoemansdrift oor die rivier geneem.

Bergagtige Vredefortkoepel

Methuen het gou van die kruising uitgevind en troepe gestuur om die Boere in die Transvaal af te sny. Ongelukkig, toe hulle by die gebied kom, het hulle ’n doolhof van konsentriese riwwe en dale gevind wat dié opdrag baie moeilik gemaak het. Christiaan De Wet was intussen besig om deur die bergagtige Vredefortkoepel na Potchefstroom te vlug. Hy het ook ’n klein groepie boere as dekmantel vooruitgestuur sodat die Britte sou dink dat hy via Lindequesdrift na die Vrystaat gaan terugkeer. Terwyl die Britte hulle troepe in die verkeerde rigting gemobiliseer het, het De Wet die Mooirivier oorkruis en deur Potchefstroom gery.

Die Britte het gou hulle fout besef en op De Wet se hakke gebly terwyl hulle noordwaarts na die Magaliesberge vlug. Oor en weer gevegte het plaasgevind toe die Boere na Olifantsnek, ’n bergpas in die westelike deel van die Magaliesberge, gevlug het. Methuen was onder die indruk dat Olifantsnek deur die Britse magte beman is en het dus sy manskappe gestuur om die ander passe in die gebied te bewaak. Hy was egter verkeerd. Die pas was oop en De Wet was veilig. Die jaagtog was verby. Die muis het weereens weggekom.

Translated by Ananda Schoeman