Diarree by Varke

©Glenneis Kriel
Diarree is ’n ernstige probleem wat tot die dood van varke kan lei indien dit onbehandeld gelaat word. Boere moet na tekens van diarree, soos los mis wat waterig lyk, soek as hulle die hokke skoonmaak. Die mis kan slymerig, grys, geel, groen en bloederig wees en abnormaal ruik. Volgens Pigs for Profit, die produksie handleiding van die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-Organisasie (SAVPO), word diarree gewoonlik by jong varkies gekry, maar dit kan by varke van enige ouderdom voorkom. Dit word gewoonlik veroorsaak deur ’n verandering in dieet, ooreet, speenstres, siektes of interne parasiete.

Verandering in Dieet, Speenstres en Ooreet

Om speenstres en ooreet by jong varkies te voorkom word daar aanbeveel dat die sog ’n gesonde gebalanseerde dieet volg sodat daar genoeg melk is vir al die suigelinge. Varkies moet klein hoeveelhede vaste kos vanaf 21 dae oud af kry of ten minste tien dae voor hulle gespeen word om hulle daaraan gewoond te maak. Voer moet beperk word gedurende die eerste paar dae van speen om te verhoed dat die speenvarkies ooreet. ’n Nuwe tipe voer vir varke van enige ouderdom moet geleidelik in ’n week of so se tyd gegee word om diarree of ongesteldheid te voorkom.

Siektes

Pigs for Profit identifiseer die volgende siektes as algemene oorsake van diarree:
Kolibasillose (Colibaccilosis): Dit word deur die Escherichia coli (E. coli) bakterie veroorsaak en beïnvloed die varkies gedurende die eerste drie weke van hulle lewe. Geaffekteerde varkies het gewoonlik romerige of geel tot grys, slymerige waterige diarree wat ook bloed kan inhê. Die varkies is geneig om hulle eetlus te verloor, minder aktief te wees en kan sterf van dehidrasie. Die siekte kan ook skielike sterftes sonder enige simptome veroorsaak.
Kolibasillose (Colibaccilosis) ontwikkel wanneer jong varkies nie genoeg melk of kolostrum, ’n sog se eerste melk direk na geboorte, inkry nie. Daar moet verseker word dat hulle genoeg kolostrum binne die eerste uur na geboorte inkry en dat sôe op ’n gebalanseerde dieet is om genoeg melk te produseer.
’n Verandering in dieet of varkies van verskillende werpsels en verskeie ouderdomme bymekaar kan by ouer varkies tot die probleem bydra. Hierdie probleem kan voorkom word deur vanaf 21 dae af kruipvoer aan klein varkies te gee.
Siek varke moet met antibiotika behandel word en baie vloeistowwe en elektroliete gegee word om dehidrasie te voorkom.
Rotavirus: Dit is ’n virussiekte wat waterige diarree in hoofsaaklik klein varkies gedurende die eerste drie weke na geboorte veroorsaak. Daar is geen behandeling nie.
Koksidiose (Coccidiosis): Dit word deur intestinale parasiete veroorsaak en beïnvloed meestal jong varkies gedurende die eerste drie weke van hulle lewe. Die siekte het wit tot geel skuimagtige diarree tot gevolg en kan deur antimikrobiese middels behandel word.
Clostridium: Dit is ’n bakteriële siekte wat jong varkies gedurende die eerste drie weke van hulle lewe affekteer. Geaffekteerde varkies het bloedige diarree en sterf soms sonder ’n duidelike oorsaak. Daar is geen behandeling nie.
Swine dysentery: Dit is ’n bakteriële siekte wat veral jong groeiende varke beïnvloed. Die siekte kan deur rotte oorgedra word en boere moet dus knaagdiere beheer. Geaffekteerde varke sal gewig verloor en hulle mis sal gewoonlik sag met ’n donkergrys kleur wees. Die siekte kan met antibiotika behandel word.
Ileitis: Dit word deur die Lawsonia bakterie veroorsaak en beïnvloed gewoonlik jong groeiende varke. Besmette varke het bloedige diarree en sterf soms vir geen ooglopende rede nie. Hierdie siekte kan met antibiotika behandel word.
Al hierdie siektes kan deur goeie higiëne en biosekuriteit maatreëls voorkom word. Een van die eerste stappe tydens enige van hierdie uitbrake sou wees om die siek varke van die gesonde varke te skei en sodoende die verspreiding van hierdie siektes voorkom.

Inwendige Parasiete

Wurms wat in groot getalle teenwoordig is kan diarree veroorsaak. Om wurms te voorkom, moet varke gereeld ontwurm word en die perseel skoon en droog gehou word.

Translated by Ananda Schoeman