Cape Riesling

© Glenneis Kriel

Naam

Cape Riesling, in Suid Afrika bekend as Crouchen Blanc

Beskrywing

Cape Riesling is ’n bekende wit druif kultivar wat oorspronklik vanaf Frankryk kom, maar meestal In Australië en Suid Afrika geplant word. Dit word in Suid Afrika onder die naam Crouchen Blanc aangeplant om verwarring met die Duitse variëteit Rhine Riesling uit te skakel.

Oorsprong

Frankryk

Ander Name

Cape Riesling het 25 sinonieme onder andere Crouchen Blanc, Cruchen, Kaapse Riesling en Paarl Riesling. In Suid Afrika word die naam Crouchen Blanc verkies om verwarring met die Duitse variëteit Weisser Riesling, ook bekend as Rhine Riesling, uit te skakel.

Produksie in Suid Afrika

Die aanplanting van Crouchen Blanc is sedert 1926 in Suid Afrika aangemoedig omdat hierdie variëteit so ’n hoë opbrengs het. Daar is omtrent 270 hektaar Crouchen Blanc in Suid Afrika alhoewel 35 hektaar in 2016 uitgeroei is.

Die grootste wingerde is in die Breedekloof (110ha) en in die Paarl (79ha) met Theuniskraal (Tulbagh) en Van Loveren (Robertson) wat die meeste wyn produseer. Die oudste wingerdstokke is in 1962 op die plaas Uitsig aangeplant en is steeds onder produksie.

Groei

Crouchen Blanc dra lig, wat beteken dat die wingerdstokke nie baie druiwe dra nie en die opbrengs is 10 – 15 ton per hektaar. Dit is ’n sterk groeier en gedy as dit opgelei word en in medium grond in koel klimaatstoestande groei.


Die gemiddelde suikerinhoud tydens oestyd is 20 – 22°Balling (Grade Balling is ‘n skaal wat die die suikerinhoud aandui en of iets gereed is om geoes te word).

Oestyd

Crouchen Blanc word mid-seisoen ryp, gewoonlik die begin van Maart en omtrent 10 dae na Chenin Blanc.

Blare

Crouchen Blanc blare is mediumgroot, vyflobbig en harig op die hoofare.

Druiwekorrels

Crouchen Blanc het klein, ronde korrels wat sensitief is vir die son. Die trosse is klein en kompak.

Siektes en Plae

Crouchen Blanc is vatbaar vir botritis, oïdium (witroes) en donsskimmel en die bros lote kan in die wind beskadig word.

Gebruik

Crouchen Blanc word meestal gebruik om witwyn te produseer. Die wyne het veroudering potensiaal as dit reg produseer word. Die veroudering potensiaal dui op die proses waartydens wyn veroudering ondergaan in vate of in bottels, ten einde die unieke karakter en kompleksiteit van die spesifieke wyn te bereik.

Smaak

Die karakter van ’n wyn het ’n noue verband met die ‘terroir’ (Frans vir terrein) en die groeitoestande. Koel klimaatstoestande bring wyn voort met ’n delikate grasagtige aroma en warmer toestande bring weer growwe (gewoonlik ongebalanseerde wyn met ’n tannien geur) wyne voort. Kwaliteit witwyn met ’n delikate maar vrugtige geur en duidelike grasagtige aromas word van Crouchen Blanc gemaak.

Notas

Oplei – die proses waartydens wortelstokke se takke vasgebind word aan ’n stelsel van drade en pale (soos ’n heining) sodat al die druiwetrosse sonblootstelling kry en tegelykertyd ryp word.Translated by Ananda Schoeman