Brown Hyena
Bruin Hiëna

© Karl Svendsen

Naam

Bruin hiëna ook bekend as ’n strandwolf [Hyaena brunnea]

Voorkoms

Die bruin hiëna het gepunte ore en gestreepte bene met 'n donkerbruin tot swart toiingrige pels, wit skouers en nek. Dit het ’n skouerhoogte van 800 mm en weeg 40 kg. Dit het roomkleurige maanhare wat vanaf die agterkant van die nek tot oor die skouers strek. Die kop en nek is grys en die bene het bruin en grys strepe.

Dieet

Die bruin hiëna is ’n karnivoor en het ’n aasdier leefstyl. Dit sal egter sy dieet aanvul met insekte, voëleiers, wilde vrugte en sal selfs af en toe kleiner diere jag. Die bruin hiëna is grootliks ’n aasdier wat leef van groot karkasse van herbivore wat deur roofdiere doodgemaak is. Hulle kakebeen en tande se aanpassings help dat hulle die lang bene van hierdie groot diere kan oopbreek en die beenmurg binne-in kan eet.

Voortplanting

Die bruin hiëna het ’n nie-seisoenale teelseisoen en die dratyd is omtrent 90 dae. Wyfies gee geboorte aan 1 tot 4 kleintjies. Kleintjies drink vir meer as ’n jaar aan die ma en bly vir 18 maande in die lêplek. Vanaf die ouderdom van drie maande word die melk aangevul met vleis. By geboorte is die kleintjies dieselfde kleur as die volwasse bruin hiëna en hulle bereik die volle grootte teen omtrent 30 maande.

Sosiale gedrag

Die bruin hiëna is ’n alleenlopende nagdier wat bedags in die digte bos of erdvark gate bly. Die bruin hiëna bly in klein groepe wat wissel van ’n paartjie met hulle kleintjies tot ’n paar volwasse mannetjies en wyfies. Die groep verdedig ’n gebied saam, maar aas nie saam nie.

Verspreiding

In Suid-Afrika word die bruin hiëna in die suidelike graslande, semi woestyn en woestyn aangetref. Dit is ’n uiters geharde dier, soos geïllustreer deur die feit dat dit steeds noordwes van Pretoria in die Magaliesberg-bergreeks bly. Bruin hiënas is ’n algemene gesig langs die Skedelkus, waar hulle aas op die afval wat uit die Atlantiese Oseaan spoel. Hulle is geneig om gebiede te vermy waar die gevlekte hiëna voorkom.

Identifikasie van die Bruin Hiëna

Die bruin hiëna (Hyena brunnea) is ook bekend as die strandwolf – oor sy manier om langs die strand af te hardloop op soek na kos....more