Bokmelk Produkte

© Jon Sullivan
Bokmelk is baie voedsaam, het ‘n proteïensamestelling soortgelyk aan borsmelk en is meer verteerbaar as beesmelk. In beesmelk is kaseïen die hoofbestanddeel van die proteïeninhoud, maar in bokmelk is die konsentrasie baie laer. Die samestelling kan slegte spysvertering veroorsaak by mense weens die vorming van soliede stolsels in die maag. Bokmelk bevat kleiner vetdruppels en meer kort en mediumketting vetsure as beesmelk. Dit verbeter die verteerbaarheid van bokmelk. Boonop bevat bokmelk vitamines A,E,B1 (50% meer as beesmelk), B2 en C sowel as minerale soos kalium, kalsium, magnesium, fosfor, yster, koper en sink.

Teelsiklus van Melkbokke

As bokke reg bestuur word, lam die ooi vir die eerste keer binne 12 maande. Die helfte van die ooie sal tweelinge hê as hulle die eerste keer lam en almal sal tweelinge volgende kere tweelinge lam. Laktasie (melkproduksie) duur gewoonlik ongeveer tien maande. As dit langer duur, sal die lammers doelbewus gespeen moet word.
In die somer reënvalgebiede sal lammers wat vroeg in die somer gebore word beter vaar as die wat later gebore word. Dis ‘n goeie idee om die lamseisoen uit te sprei sodat daar ‘n kontinuïteit van melkproduksie is. Beplan die lamperiode (piek melkproduksie) oor verskeie maande sodat surplus melk nie ‘n probleem raak nie.

Bokmelk Mark

Die vernaamste uitvoerder van bokmelkkaas is Duitsland, hoewel die voorste produsent van bokmelk in die wêreld Indië is. Die wêreld se grootste invoerder van bokmelkkaas is Italië.
Bokmelk kan bemark word as vars, gevriesde of gedroogde (poeiermelk) melk. Dit kan verkoop word aan individuele klante of vervaardigers. Bokmelk kan verwerk word in kefir (‘n gefermenteerde melkdrankie) kaas, jogurt, fudge, roomys en kondensmelk. Bokmelk wat vars of gevries verkoop word moet in verseëlde houers wees (gewoonlik plastiek of glasbottels of sakkies). Bokmelk vries goed omdat die kwaliteit daarvan nie geaffekteer word deur die vriesproses nie. Vars melk wat direk aan klante verkoop word sal ‘n hoër prys behaal as wanneer dit aan kaasmakers verkoop word.
Kaas kan gemaak van óf suiwer bokmelk, óf bokmelk vermeng met ander soorte melk. Die eindproduk moet aantreklik verpak word, altyd dieselfde kwaliteit wees, geredelik beskikbaar en goedgeprys wees. Bokmelkprodukte in Indië sluit in chhana (‘n sagte, onryp kaasstolsel), khoa (soortgelyk aan ricottakaas), en paneer (‘n kaas wat nie smelt nie). Cajeta in Meksiko en gjetost in Noorweë is gewilde gekaramelliseerde soet produkte wat van bokmelk gemaak is.
Bokmelk bevat melksuur wat ‘n natuurlike afskilferaar is en met ‘n pH soortgelyk aan menslike vel, is dit ideaal vir gebruik in lyfprodukte. Kosmetiese produkte wat van bokmelk gemaak is, is geskik vir gebruik op sensitiewe velle en velprobleme soos ekseem, psoriase, rosacea, aknee en gordelroos. Bokmelkprodukte (dikwels gekombineer met natuurlike olies en byewas) sluit in bokmelkseep, lipbalms, badsout, reinigers en lyfrome wat in baie lande en ook Suid-Afrika vervaardig word.

Translated by Elna Van Rhyn