Biosekuriteit in Pluimvee Produksie

© Chris Daly

Biosekuriteit word gesien as een van die eerste verdedigingsmeganismes teen pluimvee siektes. Dit behels verskeie voorsorgmaatreëls om voëls te beskerm teen kontak met siekte draende bakterieë. Die draers kan enige iets wees van mense tot ander diere, voeding en selfs plaasimplemente.

Kontak met ’n dieregesondheid tegnoloog en veeartse wat met siek diere op ander plase werk hou veral ’n risiko in. Gelukkig is hulle bewus hiervan en neem dus die korrekte voorsorgmaatreëls, byvoorbeeld om skoon klere aan te trek na hulle op ’n ander plaas met diere te doen gehad het.

Die Menslike Risiko

Kommersiële boere verminder die risiko van mense wat siektes in die produksie sisteem kan inbring deur ’n heining rondom die pluimveehokke aan te bring. Mense wat in die produksie areas wil inkom moet by ontvangs in ’n register inteken om rekord te hou van hulle bewegings sodat die bron van kontaminasie in ’n uitbraak vasgestel kan word.

Die perseel het gewoonlik ’n deurstap-stort voor die produksie area. Almal wat by die produksie area wil ingaan, hetsy dit ’n boer, plaaswerker of veearts is, moet hulle ‘buite’ klere by die ingang van die stort los. Daarna moet hulle stort en ’n handdoek, klere en skoene word aan die ander kant van die stort voorsien. Plaaswerkers het gewoonlik hulle eie klere wat nie van die perseel verwyder mag word nie.

Daar word van die mense verwag om elke keer ’n stort te neem en skoon klere aan te trek as hulle van die een produksie area na die ander beweeg of afhangende van die risiko areas net ’n voetbad te neem. Klere wat binne die perseel gedra word moet op die perseel gewas en ontsmet word om te verseker dat daar nie siektes oorgedra kan word nie.

Dit is belangrik dat almal wat op die plaas werk die risiko verstaan en saamwerk om die risiko’s te verminder. Besoekers word dikwels beperk tot spesifieke produksie areas.

Plaasimplemente, Transportvoertuie en Voer

©Chris Daly
Dieselfde prosedure moet gebruik word vir enige iets wat na en vanaf die plaas beweeg. Alle plaasimplemente en voerbakke moet op die perseel skoongemaak word om te verseker dat bakterieë en siektes nie van die een voël na ’n ander oorgedra word nie. Enige iets wat van die perseel verwyder word moet ontsmet word voor dit weer in die produksie area mag inkom.

Een van die moeilikste voorsorgmaatreëls is om te verhoed dat die voertuie siektes oordra. Om hierdie risiko te verminder word voertuie beperk tot sekere areas en gewas en ontsmet voordat dit op die plaas toegelaat word.

Voer is ook ’n baie groot risiko, want dit kan muf bevat wat gifstowwe kan oordra. Om hierdie risiko te verminder moet boere hulle pluimvee van goeie gehalte voeding voorsien.

Ander Diere

Die voëls word in huise gehou om kontak met ander diere en selfs ander hoenders te beperk. Die meeste boere gebruik ’n “in-all-out” sisteem waar die voëls, volgens hulle ouderdom met aankoms op die plaas, bymekaargehou word vir die hele produksie siklus totdat hulle die plaas weer verlaat.

Geboue word deeglik skoongemaak en ontsmet voor en na ’n nuwe groep in die produksie area inkom. Dit help om die risiko van enige oordraagbare siektes te verminder. Siek voëls word dadelik uit die groep weggeneem en dooie voëls word begrawe om die verspreiding van siektes te verhoed.

Kontak met ander diere moet ook sover as moontlik verhoed word. Wilde voëls is veral ’n risiko, want hulle is baie keer draers van Hoogs Patogene Voëlgriep. Hierdie siekte word in die wêreld as een van die grootste bedreigings vir pluimvee produksie gesien. Sommige stamme van die siekte kan ook mense affekteer.

Die uitbreek van hierdie siekte het al tot gevolg gehad dat massas pluimvee in verskeie lande gedood is. Wilde voëls se mis asook dooie voëls kan drinkwater besmet wat siektes tot gevolg kan hê.

Rotte en muise is ’n ander groot bekommernis. Buiten die steel van voeding, die eet en somtyds beskadiging van eiers en die doodmaak van kuikens, dra hulle ook baie siektes en parasiete soos luise, myte en vlieë.

Knaagdiere moet uit die produksie areas gehou word deur die persele so goed as moontlik te verseël met sement en ander materiaal. Die lok en vang van knaagdiere moet ook gebruik word om die populasies te beheer.

Wenke vir Gemeenskap Produksie

Om biosekuriteit in gemeenskap produksie toe te pas is bykans onmoontlik aangesien pluimvee vry rondloop op soek na kos. Onder hierdie omstandighede sal pluimvee eienaars elke moontlike materiaal beskikbaar probeer gebruik om ’n versperring tussen hulle pluimvee en siek voëls op te rig.

As dit nie moontlik is om so ’n versperring aan te bring nie kan pluimvee produsente saamwerk om die mense bewus te maak van die potensiële siektes en die volgende voorsorgmaatreëls voorstel:
  • Verwyder voëls wat siek lyk uit die populasie.
  • Stel ’n dieregesondheid tegnoloog in kennis sodat daar seker gemaak kan word dit is nie ’n ernstige siekte nie.
  • Verwyder en begrawe dooie voëls voordat dit ’n gesondheidsrisiko word.
  • Koop slegs voëls van ’n betroubare bron.
  • Hou nuwe voëls ’n ruk lank apart van die bestaande populasie om eers seker te maak dit dra nie enige siekte nie.
  • Beperk kontak tussen die koper en die voëls, veral as die koper van gemeenskap tot gemeenskap gaan om voëls aan te koop.

Translated by Ananda Schoeman