Besoekers aan die Mapungubwe Nasionale Park

Inklusiwiteit van Mapungubwe

©David Fleminger
Die Mapungubwe Nasionale Park ontvang duisende dagbesoekers (insluitende baie skooltoergroepe) en die getalle is konstant besig om te vermeerder. Daarbenewens is 60% van die besoekers swart mense, wat in sterk kontras staan met die oorweldigende besoekersyfers van wit mense aan die ander nasionale parke.
Hierdie verskil kan wees omdat Mapungubwe die eerste nasionale park is wat toegewyd is aan 'n unieke Afrika-oomblik; een wat 'n geskiedenis vier wat voormalig ontken of afgewys is. Die ander parke word dikwels beskou as uitbreidings van die apartheidstelsel en was tradisioneel ontoeganklik vir die inheemse bevolking. Die inklusiwiteit van Mapungubwe is dus iets wat SAN Parks graag in sy ander bewaringsgebiede wil aanmoedig.
Maar dit gaan oor meer as net politiek. Mapungubwe blyk gewild te wees omdat dit 'n fantastiese plek is om te besoek. Die natuurskoon is ongewoon en kenmerkend, die ruskampe is uitstaande en die Park bevat ook drie belangrike argeologiese terreine, nl. Mapungubwe Hill, K2 en Schroda.

Waarvoor Wag Jy?

©Roger de la Harpe
Die Park bied uitstekende verblyf (veel beter as die Krugerpark) en ’n magdom aktiwiteite en besienswaardighede.
Die natuurskoon in die park is ongewoon en dramaties. Oor die millennia is wat voorheen 'n hoë plato was geërodeer tot 'n landskap van wisselende valleie en riwwe.
Aan die rand van die Limpoporivier, gee die oorblyfsels van hierdie plato weg tot 'n steil platorand wat afloop na die rivier se vloedvlakte. Die hoogte wissel van 300 tot 780 meter bo seevlak.
Die geïsoleerde heuwels en koppies van die streek, soos Mapungubwe, is geskep toe 'n laag Clarens-sandsteen oor die eeue erg geërodeer was, totdat net 'n aantal vrystaande klipbanke oorgebly het.
Hierdie rooi rotspet (beskryf as 'versteende woestynduine') kombineer met die geel gras in die valleie om die besoeker 'n lewendige gewaarwording van kleur te gee.

Translated by Nina Joubert