Besoek die Vredefortkoepel

© David Fleminger

Vredefortkoepel Struktuur

Die hele Vredefortkoepel struktuur behels ’n sirkelvormige area met ’n deursnee van 300 km. Dit strek vanaf Johannesburg in die noordooste tot by Welkom in die suidweste. Omtrent in die middel van die struktuur is ’n klein dorpie genaamd Vredefort.
Die Wêrelderfenisgebied is egter beperk tot ’n kern sone ongeveer 120 km suidwes van Johannesburg op die walle van die Vaalrivier. Hierdie bergagtige area is die oorblyfsels van ’n heuwel wat in die middel van die oorspronklike krater was. Hier het die Argeïese graniet Koepel en die omringende “omgekeerde” rotse verweer en ’n reeks parallelle riwwe en valleie gevorm wat in ’n grasieuse boog tussen Vredefort, Parys en Potchefstroom lê. Hierdie stedelike areas is op die rand, maar nie deel van die kern sone nie, dus sal die ontwikkeling van die dorpe nie deur die beskermende erfeniswetgewing belemmer word nie.

Grense van die Kern Sone

Die grense van die kern sone stem ongeveer ooreen met verskeie paaie wat hierdie drie dorpe verbind. Die oostelike grens is die Parys-Potch teerpad (R53). Die Schoemansdrift-Potch-pad (gedeeltelik teer en gedeeltelik grond) is aan die westekant. ’n Grondpad wat van oos na wes loop (die Schoemansdriftpad) verbind die twee Potch-paaie in die Noordwes-provinsie. In die suide is daar verskeie grondpaaie wat halfmaanvormig aan die Vrystaat se kant lê. Rondom hierdie effens vierkantige gebied is daar ’n 5 km buffersone.
In die middel van die Koepel se area loop die Vaalrivier wat vanaf die ooste tot die weste vloei. Volgens Suid-Afrikaanse standaarde is die Vaalrivier ’n baie groot rivier en dit voorsien Johannesburg en die omliggende industriële gebiede van water. Die meeste van hierdie industriële gebiede is stroomop vanaf die Koepel, naamlik Sasolburg, Vanderbijlpark en Vereeniging. Die Vaalrivier is gewild by watersport entoesiaste en dit bied ’n geleentheid vir hengel, waterski, kajakroei en selfs ’n seiljag of witwater-vaart. Die Vaaldam, stroomop vanaf Vereeniging, is ook ’n gewilde ontspanningsoord.

Oneweredige Topografie

As gevolg van die oneweredige bergagtige area rondom die Koepel word die vloei van die gewoonlik breë en plat Vaalrivier soos dit deur die skuins rotslae loop versteur. Dit veroorsaak dat die water vinniger vloei en in ’n aantal strome opbreek wat deur honderde klein eilande geskei word. Die grootste van hierdie eilande is 150 ha en een het selfs ’n 9-putjie gholfbaan. Laasgenoemde eiland, met die gepaste naam Gholf-eiland, word met Parys deur ’n pragtige hangbrug verbind.
Die Vaalrivier se eilande is ryk aan diere, plante en voëllewe. Daar het ook plakkers en ander onaanvaarbare mense gebly, veral in die Parys-gebied waar die eilande groot en volop is. Tydens die 2de Anglo-Boereoorlog is hierdie eilande deur vlugtelinge en drosters bewoon wat oor die rivier gevlug en in die digte plantegroei gaan wegkruip het. Die rede hiervoor was dat die eilande neutrale grondgebied was, ’n niemandsland wat nie aan die Oranje-Vrystaat of Transvaal behoort het nie.

Samewerking

In die laat 1800’s is hierdie situasie deur hierdie twee republieke, wat elk beweer het dat die eilande aan hulle behoort, bevraagteken. ’n Lang wetlike stryd om te probeer uitwerk watter eilande nou eintlik aan wie behoort het gevolg. Uiteindelik is daar ’n spesiale komitee ingestel om elke eiland te ondersoek en dit daarna aan die een staat of die ander toe te staan. Daar is nie toegelaat dat een eiland om die helfte verdeel word nie. In 1895 is die Vaalrivier-eiland Verdrag onderteken. Die Transvaal het 100 eilande gekry en die Vrystaat 90. Dit word nou 'n skikking noem!
Deesdae dui die Vaalrivier die grens tussen die Noordwes en die Vrystaat aan. Die Vredefortkoepel het dus twee provinsiale owerhede. Dit bemoeilik ’n bietjie die ontwikkeling en bemarking daarvan. Verder bevat die Koepel se kern sone meer as 100 privaat plase en verskeie distriksmunisipaliteite. ’n Mens kan maar net hoop dat almal sal saamwerk en die Koepel tot sy volle potensiaal laat kom. Let egter daarop dat baie van die Vredefortkoepel se besienswaardighede tans op private grond is en nie sonder die toestemming van die grondeienaar besoek mag word nie.

Translated by Ananda Schoeman

Self-ry Roetes deur die Vredefort Koepel

Die ingang na die Vredefort Koepel is Parys, ‘n aantreklike vakansiedorp wat gebou is op die suidelike oewer van die Vaalrivier....more

Vredefort se Fauna en Flora

Die Vredefortkoepel is in die grasland-bioom tussen die Hoëveld en die Transvaalse platorand geleë. Die grasveld word gewoonlik as Bankenv...more

Die Dorp Vredefort

Alhoewel die dorp Vredefort sy naam aan die Koepel gegee het, is daar nie juis iets anders om besoekers na hierdie stil dorpie te lok nie....more