Behuising vir Konyne

© Karoline Steenekamp

Basiese Vereistes vir ‘n Goeie Konynhok

Voordat konyne aangekoop word is dit belangrik om te besin oor hul behuising – die tipe hok, grootte en posisie. Hokke kan gekoop word, maar dis die duurste metode; dis meer ekonomies om jou eie te bou. Die basiese vereistes vir ‘n goeie konynhok is:

‘n Veilige, stewige hok wat beskutting bied teen die weer. Dit sluit in beskutting teen die son en algehele beskutting teen reën en wind.

‘n Hok moet ten minste 0.6 vierkante meter vloerspasie en minstens 0.5 m hoogte hê. Die konyn moet in staat wees om gemaklik te hop van die een kant na die die ander en uitgestrek kan lê sonder om aan die kante te raak. Dis ook baie belangrik dat die konyn regop moet kan sit om rond te kyk en om voedsel deur die dermkanaal te laat beweeg sodat spysverteringsprobleme nie ontstaan nie. (Sien Welsyn-afdeling).

‘n Goeie hok moet beskerming bied teen alle roofiere. Konyne is kos vir baie diere soos honde, slange, wildekatte, rotte en roofvoëls soos uile.

Konyne moet te alle tye teen hitte beskerm word. Temperature hoër as 25°C is ‘n probleem en daar moet gesorg word dat hokke óf in die skaduwee is, óf in ‘n baie goed geventileerde gebou. In uiterste hitte is dit nodig om die dak met water te besprinkel om die temperatuur te help verlaag. Koue is nie ‘n probleem vir volwasse konyne nie, maar kleintjies moet beskerm word.

As konyne in draadhokke aangehou word, is dit belangrik om ‘n rusplek te voorsien waarop die konyn kan sit. Dit beskerm hulle voete sodat hulle nie heeldag net op die draad is nie, maar voorsien veral ‘n plek waarop die konyn kan sit sonder dat daar ‘n trek op sy maag is. Die rusplek kan bestaan uit ‘n hout plank, ‘n vel karton of ‘n stuk tapyt. Dis baie belangrik dat die rusplekke skoon gehou word.

Translated by Elna Van Rhyn