Basilie Verbouing

© Marinda Louw

Voortplanting

Basielie word gekweek van saad, maar steggies kan ook gebruik word. Kommersiële kwekers plant die saadjies direk in die grond. Gewoonlik groei saailinge in 'n beskermde omgewing soos 'n kweekhuis, en word na drie tot vier weke uitgeplant.

Plantmetode

Basiliesaad en saailinge word met die hand of meganies geplant. Plant direk, 10 cm van mekaar af, om 'n digte bos basilie te verseker, en dun die plante later uit tot die gewensde plantdigtheid.

Spasiëring

Die plantjies moet 30 cm uitmekaar in rye wat 50 cm van mekaar is, geplant word. Dit lewer tussen 65 000 en 67 000 plante per hektaar. Sommige kommersiële boere vergroot die plantdigtheid tot 80 000 tot 100 000 plante per hektaar.

Saaityd

Die beste tyd om basilie te plant is vroeg- tot mid-lente om seker te maak dat die plante die laaste ryp mis. In Suid-Afrika is dit laat Augustus tot Oktober.

Planttyd

Saailinge kan egter gedurende Julie in 'n kweekhuis gekweek word om 'n voorsprong van 'n paar weke op produksietyd te kry. Plant die saailinge uit wanneer hulle ongeveer 150 mm hoog staan, net na die laaste ryp van laat-Augustus tot Oktober.

Groeiperiode

Die eerste oes kan ongeveer tien weke na beplanting gedoen word. Daarna kan die blare nog twee keer geoes word. Sny die basilie 15 cm bo die grond af, en laat genoeg stam oor vir nuwe groei.

Bemesting

Moenie die grond oorbemes nie, aangesien dit ryping en bloei sal aanhelp. Bemes na aanleiding van die grondanalise wat voor aanplanting gedoen is. 'n Toevoeging van 200 tot 300 kg 3:1:5 wanneer die plante so 20 cm hoog is, behoort voldoende te wees tot die eerste oes. Voeg dieselfde hoeveelheid by na elke opeenvolgende oes. Blaarvoeding werk goed om gesonde blare te verseker.

Besproeiing

Basiliekruid is baie sensitief vir vogstres, en dus is dit baie balangrik om die grond teen die optimale kapasiteit, soos aanbeveel vir die grondsoort, te hou. Installeer vogmeters vir konstante kontrolering. Stres sal bloei aanbring, wat nadelig is vir produksie.
Basilie kan met 'n sproeier of 'n drup besproei word. 'n Drup is beter, aangesien die blare nie nat word nie. Nat loof kan swamme laat groei wat die blare beskadig. Basilie kan, afhangende van die weer en temperatuur, met ongeveer 40 mm besproeiing per week goed groei. Dien water twee tot drie keer per week toe. Meer sanderige grond kan elke tweede dag besproeiing benodig. In hierdie geval word deklaagbewerking aanbeveel, aangesien dit verdamping verminder. Gebruik 'n plastiek of 'n organiese deklaag, wat ook sal help om die onkruid te beheer.

Translated by Rentia Pretorius