Barbera

© Altydgedacht Vineyards

Beskrywing

Barbera is ‘n rooiwyn druifvariëteit wat hoofsaaklik gebruik word vir die produksie van tafelwyne. In Noord-Italië word ook vonkelwyn daarvan gemaak. Wetenskaplikes was tot dusver onsuksesvol om die oorsprong van die druifsoort vas te stel.

Herkoms

Die druifsoort word al vir eeue in die Piedmont-streek van Noord-wes Italië verbou en daarom word dié streek as die tuiste van hierdie druiwe beskou. DNS ontleding toon egter dat daar weinig ooreenkoms is met die ander variëteite van Piedmont wat daarop dui dat Barbera op een of ander stadium van elders na die streek ingevoer is.

Die variëteit word tradisioneel gesien as ‘n alledaagse drink-wyn wat jonk geniet moet word saam met pasta, pizza, kaas of salami. Die wyn se aansien het egter in die laaste 20 jaar gestyg danksy Italiaanse wynboer, Giacoma Bologna van die Braida landgoed wat die eerste internasionaal bemarkte Barbera in 1984 geproduseer het, en terselfdertyd die variëteit se potensiaal om ernstige wyn te lewer, bewys het.

Om hierdie wyn te produseer, het Bologna sy wingerde strategies gesnoei om produksie te verminder, die druiwe later as gewoonlik ge-oes sodat die druiwe ‘n hoër suikerinhoud en laer suur-inhoud gehad het en dan die wyn vir 16 maande laat verouder in klein Franse eikehoutvaatjies of barriques. Italiaanse immigrante het die variëteit na Kalifornië in die VSA en na Argentinië versprei. Dit is een van die mees geplante rooiwyn variëteite in Italië.

Ander name

Sommige plaaslike sinonieme bestaan in Italië, maar die variëteit is amptelik bekend as Barbera in die res van die wêreld.

Verbouing in Suid-Afrika

Prof Abraham Izak Perold het Barbera rondom 1910 ingevoer en Ralph Parker, eienaar van die Altydgedacht landgoed in Durbanville, was een van die eerste produsente om die variëteit in ongeveer 1920 aan te plant. Altydgedacht het aanvanklik die variëteit gebruik vir die produksie van gefortifiseerde wyne, maar in 1992 het hulle die eerste plaas in die land geword om dit te verkoop as ‘n enkelvariëteit wyn.

Produksiestreke

Die variëteit het ‘n klein voetspoor in Suid-Afrika. Aanvanklik is dit aangeplant oor ‘n aansienlik uitgebreide gebied in die Durbanville-area, maar ten spyte van hernude belangstelling in die variëteit, word dit vandag op minder as 10 plase verbou.

Verbouing

Dis ‘n relatief sterk groeier met ‘n prdoduksiepotensiaal van 12t/ha tot 15t/ha. Om goeie kwaliteit wyne te lewer, moet die wingerdstokke gemanipuleer word om klein druiwetrosssies te lewer.

Rypwording

Die druiwe word vroeg ryp – vanaf die tweede week in Februarie.

Korrels

Korrels is mediumgroot, ovaalvormig en violet-swartkleurig wanneer heeltemal ryp.

Blare

Die mediumgroot donkergroen blare is ovaalvormig met vyf lobbe.

Peste en Plae

Barbera is gevoelig vir donsige skimmel en windskade. Dit is baie geskik om meganies ge-oes te word. In Suid-Afrika word Barbera verkoop as ‘n enkelvariëteit wyn, of dit word versny met verskillende ander variëteite.

Smaak

Die wyne wat gemaak is van jonger variëteite word geassosieer met vars en gedroogde vrugte, terwyl dié afkomstig van ryper druiwe, meer prominente swartbessie- en suur kersiegeure openbaar.Translated by Elna Van Rhyn