Bakterieë en Virussiektes in Druiwe

© Vitiec Winetech

Kroongal is die mees algemene bakteriële wingerdsiekte en kom algemeen voor op wingerdstokke langs die Olifantsrivier en Benede Oranjerivier. Die simptome van kroongal sluit onder andere in die verskyning van galle op die hoofstam naby die grondoppervlakte. Geel-grys galle en barste verskyn in die bas hoofsaaklik naby entlaste.

Die galle verbruin later. Kroongal word deur water en implemente versprei. Kroongal word beheer deur gebruik te maak van geregistreerde plantmateriaal wat warmwaterbehandeling ontvang het. Die galle kan ook afgebreek word waarna die wonde met koper behandel moet word.

Virussiektes kan in enige wingerdbougebied voorkom en hul voorkoms hang af van die virusstatus van die plantmateriaal. Plantmateriaal kan virusvry gemaak word deur hitte-terapie. Die chemiese beheer van virusse is nie moontlik nie, maar dit is wel noodsaaklik om witluis te beheer aangesien dit die siekte in ’n blok versprei.

Rolblaar

Rolblaarvirus kom wydverspreid by die rooi kultivars Cabernet, Merlot en Chardonnay voor. Cape Riesling en Semillon is ook vatbaar vir rolblaar. Bykans geen simptome word gedurende die lente gesien nie, maar vanaf November kan blare van rooi kultivars begin om na onder te rol en rooi te verkleur.

Die nerwe bly egter groen. By wit kultivars is die simptome minder sigbaar en rol die blare na onder. Dit is belangrik van witluis en miere beheer word aangesien hulle ‘n rol speel in die verspreiding van rolblaar virus.

‘n Buffersone tussen besmette en onbesmette wingerd word aanbeveel en gereedskap en implemente moet ontsmet en skoongespuit word wanneer daar vanaf besmette wingerd beweeg word.

Shiraz Siekte

Shiraz-siekte kom by Merlot, Shiraz, Malbec en Gamay voor en word veroorsaak deur ‘grapevine virus A’. Die siekte is ook al by Viognier opgemerk. Dit kan herken word aan rubberagtige, hangende lote wat nie eweredig ryp word nie aangesien besmette stokke se bot vertraag word.

Trosse is kleiner as normaal of is totaal afwesig. Blare en nerwe verkleur pers-rooi en val baie laat af. Daar is geen behandeling vir hierdie siekte nie en stokke gaan gewoonlik binne drie tot vyf jaar dood. Dit versprei op ‘n natuurlike wyse deur die wingerd, maar witluis is ook ‘n faktor in die verspreiding van Shiraz-siekte.

Studies het bepaal dat die siekte redelik geelimineer kan word deur hitte behandeling van die moedermaterial. Besmette stokke word uitgehaal en verbrand.

Ander Siektes

Daar is nog baie ander siektes en een wat maar onlangs in wingerde ontdek is, is ‘Aster Yellows’ (aster vergeling). Veral Chardonnay is baie sensitief vir aster vergeling.

Simptome van ‘Aster Yellows’ sluit in gekreukelde blare in die vroegseisoen. Blare van wit kultivars word later geel terwyl rooi kultivars se blare rooi verkleur. Blare is dikker as normaal, bros en krul ondertoe. Lote wys verkorte litte en vertraagde groei.

Hierdie is ’n baie ernstige siekte en kom gelukkig nog net in ’n paar areas voor, daarom is dit baie belangrik om enige snaakse simptoom wat in die wingerd opgemerk word, by VinPro aan te meld.

Voorlopige studies dui daarop dat die moontlik deur ‘n blaarspringer oorgedra kan word. Aangetaste blare moet verwyder word en na die seisoen moet die hele stok met wortels en al uitgehaal word.

Translated by Marinda Louw