Algemene Spysverteringsprobleme By Varke

Abdominale Pyn

©National Pork Board, USA
Abdominale pyn mag die resultaat wees van maagswere, orgaanverplasing, hardlywigheid en sommige siektes soos die Afrika varksiekte. Simptome sluit in varke wat hul rûe krom trek weens pyn, ‘n gekerm en gekreun of geskreeu.
Behandeling
Die boer moet die oorsaak van die pyn bepaal en dit dan behandel.

Maagswere

Simptome van ‘n vark wat maagswere het sluit in braking, abdominale pyn en of mis wat donkerbruin verteerde bloed bevat wat soos koffiemoer lyk. Groeiende varke word meer dikwels deur hierdie kondisie affekteer as sôe.
Maagswere mag weens ‘n verskeidenheid oorsake ontstaan. Volgens die Pig Site artikel, Gastric Ulcers, bevat die dieet dalk nie genoeg proteïene, vesel of sink nie. Alternatiewelik is die energievlak van die rantsoen dalk te hoog of die rantsoen bevat te veel graan of onversadigde vette. Die varke mag dalk ook ly aan ‘n tekort aan vitamien E of selenium.
Wanneer dit kom by die fisiese voer, mag die partikelgrootte van die voedselbestanddele te klein wees of die voginhoud van die graankomponent van die dieet is dalk te hoog.
Vervoer, periodes van verhongering, ongereelde voedingspatrone en swak beskikbaarheid van water mag ook bydra tot die probleem.
Behandeling
Maagswere kan voorkom word deur varke ‘n gebalanseerde dieet waarvan die bestanddele nie te fyn is nie, te voer. Die South African Pork Producer’s Organisation (SAPPO) beveel in sy varkproduksiehandleiding, Pigs For Profit, aan dat boere varke moet behandel deur 50% ruvesel by hul voer te voeg, hulle toegang tot groenvoer soos lusern of gras te verskaf en hulle in te spuit met ‘n versterkte sulfonamied (Trimethoprim).

Braking

Varke mag begin braak weens verskeie redes waarvan sommige ernstiger van aard is as ander. Hulle mag byvoorbeeld maagswere hê, siek wees, iets giftig geëet het, of iets wat hul mae omgekrap het, of ly aan ‘n interne obstruksie of ‘n voedingstoftekort.
Behandeling
Goeie higiëne is alreeds ‘n baie goeie voorsorg teen braking. Sorg moet gedra word teen vergiftiging. Die soutinhoud van voer moet beperk word en varke moet toegang hê tot genoeg water om soutvergiftiging te voorkom. Die oorsaak van braking moet behandel word. Indien die oorsaak nie voor die hand liggend is nie, moet ‘n veearts of dieregesondheidstegnikus geraadpleeg word. Die American Mini Pig Association stel voor dat boere voer weerhou vir ten minste ses ure nadat ‘n vark gebraak het om die maag te laat rus en ook die watertoevoer te beperk tot ongeveer ‘n halwe koppie per uur na die laaste braking. Vrye toegang tot water kan herstel word sodra daar geen braking vir ses ure was nie. Daar moet geleidelik met voer begin word, aanvanklik sagte voer vir omtrent ‘n week totdat die vark terug is op sy normale dieet.

Translated by Elna Van Rhyn